Oud-bevelvoerders word in 2019 verhoor

Kol Nkhabu Nthejane en brig gnl Xolani Mankayi tydens die Infante­rieskool se onlangse Vryheid van die Stad-parade
in Oudtshoorn. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE twee voormalige bevelvoerders van die Oudtshoorn Infanterieskool wat tereg staan op klagtes dat hulle die Oudtshoorn Polisiekantoor wou opblaas en die polisie in die uitvoering van hul pligte verhinder het, het verlede week weer vlugtig in die Oudtshoorn Streekhof verskyn en uiteindelik verhoordatums gekry.

Brig gnl Xolani Mankayi en kol Nkhabu Nthejane, albei voormalige bevelvoerders van die Infanterieskool op Oudtshoorn, het na bewering in Mei 2016 soldate in gepantserde voer­tuie na die Oudtshoorn Polisie­kantoor in Baron van Reedestraat laat opruk en glo gedreig het om die stasie op te blaas indien sowat 35 soldate wat vroeër die dag by ’n kuierplek in Bongolethu in hegtenis ge­neem is, nie onmiddellik vrygelaat word nie.

Die saak was al in ’n gevorderde stadium van verhoor toe streeklanddros Mark van Wyngaardt in November verlede jaar oorlede is en dit daarna as nuwe saak op die hofrol geplaas is.

Die saak is vanjaar by verskeie geleenthede uitgestel, onder andere weens vertoë wat die twee tot die staat gerig het.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir ’n week se verhoor, van 8 tot 12 April 2019, uitgestel.