Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is na die getuienis van nog ’n voormalige kollega tot Juliemaand uitgestel.
Sers Jesica Wentzel het verlede week getuig dat sy by die Dysselsdorp Gemeenskapsentrum was toe die twee beskuldigdes, Dawid Voster en Daniel Lingerveld, die aand van 13 Januarie 2012 met die oorledene, Frank Links, daar aangekom het.
Sy het gesien hoedat Lingerveld vir Links met ’n tuinslang natspuit en hom later ook met die vuis in die gesig slaan waarna hy “half inmekaar” gesak het. Sy het toe gesien hoedat die oorledene deur konstabels Prins, August en Lingerveldt die aanklagkantoor binne gedra is. Sy weet nie wat binne gebeur het nie.
Op ’n vraag van die landdros of sy dink dit was nodig vir Lingerveld om die oorledene in die gesig te slaan, was haar antwoord: “Ek dink dit was al uitweg om die man tot bedaring te bring omdat hy baie oproerig was.”
Volgens die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, sal hulle getuig dat sy nie op die toneel was nie en nie die waarheid praat nie. Daar is ook nie ’n inskrywing hieroor in haar sakboekie nie.
Die beskuldigdes sal ook getuig dat die oorledene vir Lingerveld twee keer in die gesig geslaan het, maar dit word ook deur Wentzel ontken. Wentzel het erken dat sy nie alles kon waarneem nie omdat sy ook met omgekrapte gemeenskapslede gepraat het.
Sy het nie gesien dat Lingerveldt op die oorledene se bors getrap het terwyl op die grond gelê het nie en ontken dat sy April, met wie sy in ’n verhouding is, uit die die saak wil kry.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir verdere verhoor uitgestel tot 10 en weer 12 Julie 2019.