Ontmoet Gimmies se nuwe skoolhoof

Carl, Willene en Willem, die Snymans se 4-jarige seuntjie kom hul eersdaags in Oudts-hoorn vestig. Foto verskaf

Carl Snyman (37) – adjunkhoof van Hoërskool Cradock, neem op 1 Julie 2025, die tuig oor as skoolhoof van Langenhoven Gimnasium.

Snyman het Dinsdag telefonies gesê hy, sy vrou Willene en hul seuntjie Willem (4), is ongelooflik opgewonde om hulself in die Klein Karoo te kom vestig. Willene is ʼn finansiële beplanner.

Snyman het in 2006 in Gqeberha, voorheen Port Elizabeth, by Hoërskool Framesby gematrikuleer. Hy het onderwys gegee by Hoërskool Pearson en ook by Grey High School. Carl Snyman is tans adjunkhoof sowel as koshuis-superintendent by Hoërskool Cradock. Die ondervinding wat hy in 2023 as waarnemende skoolhoof opgedoen het, was goeie voorbereiding vir sy pos as hoof van Gimmies.

Snyman se ouers was onderwysers en hy het in hulle spore gevolg en sy B-Ed-graad by NMMU (Nelson Mandela Metropolitan University) voltooi met spesialisering in wiskunde en fisiese wetenskappe. In 2019 verwerf hy ook ʼn meestersgraad in besigheidsadministrasie.

“Ek spot altyd en sê, ek het nie onderwys gekies nie, onderwys het my gekies. Ek het altyd geweet ek wil by die bestuur van ’n skool betrokke wees en deel wees van ʼn gemeenskap met goeie waardes. Ek volg Gim se vordering al lank en wil graag deel wees van die skool se vooruitgang,” het hy Dinsdag gesê. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Ontmoet Gimmies se nuwe skoolhoof"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*