

Dr André Hattingh, neurochirurg van De Rust, het Dinsdagoggend op sy 500 km donkiekarrit ten bate van kindergesondheid uit De Rust vertrek.
Die Hoorn het drie weke gelede berig dat Hattingh die tog onderneem om geld in te samel vir twee spesiale “buggies” waarmee kinders wat serebraal gestremd is, oor die weg kan kom. Hattingh is die stigter van Pedratic Care SA, ’n nie-winsgewende organisasie wat hom daarvoor beywer om gesondheidsorg aan minderbevoorregte mense en veral kinders te voorsien.
Die donkiekar wat vir hierdie rit gebruik word, is deur die kunstenaar, Braam le Roux ontwerp en is deur inwoners van De Rust gebou. Die donkiekar word deur twee donkies op ’n slag getrek en vier donkies word op ’n sleepwa vervoer.
Die donkies is op bruikleen van die eienaar wat in Dysselsdorp woon. Buiten die ses donkies wat gebruik word, is daar nog twee op bystand indien hulle benodig word. Dinsdagoggend was Vaaltyn en Dapper ingespan vir die eerste skof van ongeveer 30 km tot by die plaasopstal van Saag en Hazel Jonker.
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, was Dinsdagoggend in De Rust om die span sterkte toe te wens en het sommer ook hand bygesit om die tuie van die donkies gereed te maak. Dinsdag se skof het meer as 10 ure geduur vir slegs 30 km, want dit het begin reën en donkies stap nie graag as hulle nat is nie. Hattingh sê daar was ook ʼn aantal driffies wat onder water was en die donkies was nie haastig om deur die driffies te kom nie.
Woensdag se skof het gestrek tot in Oudtshoorn en het by Smitswinkel geëindig. Die eerste gedeelte van die skof het ook stadig gegaan omdat dit steeds gereën het. Die beplanning vir Donderdag was ’n roete vanaf Smitswinkel tot by Bella de Karoo tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Vanoggend (Vrydag) het hulle by Bella de Karoo weggetrek en oornag vanaand by Klokkies gastehuis in Calitzdorp.
Hattingh word vergesel deur ’n bystandsvoertuig met water en voer vir die donkies sowel as noodvoorraad. Die vier donkies wat nie vir die dag op diens is nie, word elke oggend tot by die oornagplek vervoer waar hulle vir die dag kan uitspan.
Hattingh se roete strek oor 251 km en hulle lê die roete tweekeer af. Hy verwag om op Donderdag 24 April die tog in De Rust af te sluit. Die Hoorn sal gereeld Hattingh en die donkies op Facebook plaas. Hy nooi mense uit om hom langs die pad en in dorpe te ondersteun en noem terloops dat hy ’n vreeslike voorliefde vir melktert het. (HANNES VISSER)
Be the first to comment on "Donkiekarrit reeds op vierde skof van 500 km"