Drie brande saai die naweek verwoesting


Jacques Jakobs (32) en Filicity Solomons (20) wat Maandag in ’n vernietigende brand naby die Bridgton Stadion gesterf het. Regs is Filicity se bedroefde ma, Fien, en suster, Leane, op die toneel van die brand. Donasies vir die slagoffers kan by die Oudtshoorn Brandweer afgegee word. Veral mansklere word benodig. Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
TWEE inwoners van Bridgton, Oudtshoorn, het Maandagoggend omstreeks 03:00 gesterf toe ’n brand drie houthuisies agter in die erf van Mullerstraat 2074 in puin gelê het.
Filicity Patricia Solomons (20) en Jacques Jakobs (32) was reeds dood toe die brandweer opgedaag het. Hulle is vermoedelik aan rookinaseming en verbranding oorlede.
Jacques, ’n werknemer van Johnson’s Bricks en al ses jaar lank in ’n verhouding met Felicity, het in een van die huisies gewoon.
Die drie inwoners van die huisie langsaan is ongedeerd, asook die sewentien mense wat in die huis op die erf woon. Die derde houthuis is gebruik as ’n stoorkamer.
Daar word vermoed dat ’n kers in Jacques se huis omgeval het. Die twee oorledenes se liggame is omstreeks 05:00 uit die huis verwyder.
“Ons sal haar nooit weer terugkry nie. Die Here het haar by haar naam geroep,” het Fien Solomons, Filicity se ma, gesê. Filicity was haar jongste kind.
“Sy het die naweek by Jacques gaan kuier. Sy was so opgewonde en het die plekkie vir hulle mooi gemaak. Hulle het ses jaar uitgegaan en was baie erg oor mekaar. Daar lê nog rooi gordyne net so in ’n sak by my huis.”
Volgens Filicity se suster, Leane, het sy wakker geword toe sy hoor haar jonger suster, Elmarie, roep hul ma. “Die hitte was te erg. Ek kon nie eens naby die kraan kom nie. Daar was niks wat ek kon doen nie. Toe ek ’n ontploffing binne hoor, het ek geweet dit is te laat,” het sy snikkend vertel.
Die bure se dogter, Lynette Blom, het die brand eerste gewaar. Sy is gewek deur die vlamme wat langs haar venster gebrand het. Haar huismense het daarna hul bure gaan waarsku.
Die inwoners op die erf het byna al hul meubels en klere in die brand verloor.
Anel Raubenheimer van Johnson’s Bricks sê Jacques (ook bekend as Jones, Zola of Ore) was ’n gewaardeerde personeellid wat deur almal gemis sal word. “Ons is dankbaar vir die tyd wat hy deel van ons lewens was. Jy kon sy passie sien vir enige taak wat hy uitgevoer het. Ons ken hom as daardie persoon wat enige vertrek met lewe kon vul. Ons innige meegevoel aan sy familie.”
Jacques en Filicity word Saterdag saam begrawe.
Vuurhoutjie-speel lei ook tot ’n brand
Twee brande in Bongolethu het ook die naweek groot skade aangerig. Vrydag is ’n huis erg beskadig nadat twee kleuters, onderskeidelik drie en vier jaar oud, vermoedelik met vuurhoutjies gespeel het.
Die voorval het omstreeks 11:20 in 13de Laan (Thabo Mbeki Square) plaasgevind. Joey Jacobs (82) wat in ’n kamer in die huis gewoon het, sê hy het alles in die brand verloor.
Niemand is egter in die voorval beseer nie.
Skade beloop na raming R5000.
Mense steel terwyl nog ’n huis brand
In die ander voorval het daar Saterdagoggend vroeg nog ’n brand in 13de Laan ontstaan in die huis van Monica Nombande, die afgelope 12 jaar ’n onderwyser by die Happy Feet Kleuterskool in Bongolethu. Volgens Nombande was sy by ’n vriendin en het sy met haar terugkeer 02:00 vlamme by haar slaapkamervenster sien uitkom.
“Die ergste was dat mense besig was om my huisraad en persoonlike items by my agterdeur uit te dra pleks daarvan om te help om die vlamme te blus,” het Nombande gesê.
Sy het alles in haar slaapkamer verloor, asook talle items wat tydens die brand gesteel is.
Met die aankoms van die brandweer was die brand in ’n groot mate reeds geblus.
Dit was egter nie die einde van Nombande se trauma die naweek nie. In ’n verdere voorval is die diefwering en vensters van haar klaskamer by die kleuterskool oopgebreek en rommel by die venster ingegooi. Die rommel is ook oënskynlik aan die brand gesteek, maar wou nie vlamvat nie. Dié voorval het tussen Saterdag en Sondag gebeur.
Nombande het gesê sy wil graag die twee jong mans en ’n jong vrou bedank wat gehelp het om die brand by haar huis te blus.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen saak in verband met die twee voorvalle ondersoek nie.