DIE Oudtshoorn Munisipaliteit is besig met ’n ondersoek na die oorbetaling van raadslid Marcellis Theyse sedert sy inhuldiging begin Junie 2018.
Theyse het Wyk 13 tydens ’n tussenverkiesing op 30 Mei 2018 vir die DA gewen. Die wyk het vakant geraak met die dood van Pieter Luiters, wat ook lid was van die burgermeesterskomitee.
Dit wil voorkom of Theyse van die begin af nie die salaris van ’n gewone wyksraadslid ontvang het nie, maar ’n salaris gelykstaande aan die van ’n lid van die burgemeesterskomitee.
Volgens die hoofsweep van die ANC in die Oudtshoorn-raad, Jongilizwei Tyatya, het die oorbetaling eers bekend geword toe die Ouditeur-Generaal se kantoor onlangs daaroor navraag gedoen het.
Tyatya sê die ANC sal graag wil weet hoe dit moontlik is dat so ’n foutiewe betaling vir so ’n lang tydperk gemaak kan word sonder dat enigiemand dit agtergekom het.
Volgens hom beteken dit dat Theyse in die tydperk bykans dubbel die salaris ontvang het van wat hy veronderstel was om te kry.
Die Hoorn het navrae oor die kwessie aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur en wag tans op terugvoer. (Berig deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus)