Toe ChatGPT in 2022 bekendgestel is, het baie mense dit as ’n nuuskierigheid afgemaak. Minder as vier jaar later gebruik miljoene mense wêreldwyd kunsmatige intelligensie (KI) om e-posse te skryf, dokumente op te som, foto’s te skep en besighede te bestuur. Namate die tegnologie al hoe meer deel van die alledaagse lewe word, wil Suid-Afrika ook ’n groter rol speel in hoe KI wêreldwyd bestuur en ontwikkel word.
Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse regering ’n spesiale gesant vir tegnologie en kunsmatige intelligensie aangestel het om die land se rol in internasionale gesprekke oor die vinnig ontwikkelende tegnologie te versterk.
Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede het onlangs aangekondig dat die internasionaal erkende tegnologieleier en voorstander van digitale transformasie, Lady Mariéme Jamme, die erepos sal beklee. Die aankondiging is tydens die AMC Davos 2026-byeenkoms in Tianjin, China, gemaak.
Jamme sal in haar rol as Suid-Afrika se internasionale verteenwoordiger en adviseur oor tegnologie, verantwoordelike KI-bestuur en digitale insluiting optree. Sy sal onder meer met regerings, internasionale organisasies, akademici, beleggers en bedryfsleiers saamwerk om vennootskappe te bevorder wat Suid-Afrika se ontwikkelingsdoelwitte ondersteun.
Die aanstelling kom op ’n tyd wanneer wêreldwye debat oor die impak van KI op werk, onderwys en die ekonomie toeneem. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) word sowat 40% van poste wêreldwyd op een of ander manier aan KI blootgestel. Hoewel sekere roetine-take waarskynlik toenemend deur tegnologie verrig sal word, dui die fonds se navorsing daarop dat nuwe beroepe en geleenthede terselfdertyd ontstaan.
Die grootste uitdaging vir lande sal wees om werkers met die nodige digitale vaardighede toe te rus om by die veranderende arbeidsmark aan te pas.
Die Wêreld Ekonomiese Forum meen op sy beurt die werkplek van die toekoms sal waarskynlik nie deur mense of KI oorheers word nie, maar deur samewerking tussen die twee. Werknemers wat leer om KI as hulpmiddel te gebruik, eerder as om daarmee te probeer meeding, sal na verwagting die grootste voordeel uit die tegnologie put.
Akademiese navorsing dui ook daarop dat KI nie alle beroepe ewe veel sal raak nie. Werk wat kreatiewe denke, komplekse besluitneming en menslike interaksie vereis, is moeiliker om te outomatiseer, terwyl herhalende en roetine-take waarskynlik die grootste verandering sal ondergaan.
Kenners waarsku egter dat die uitdaging nie bloot is om KI te gebruik nie, maar om dit verantwoordelik te gebruik. In ’n onlangse ontleding in die Harvard Business Review word gewaarsku dat organisasies wat blindelings op KI-uitsette staatmaak, die gevaar loop dat die gehalte van hul kennis en besluitneming mettertyd verswak.
Die skrywers voer aan dat KI mense se werk moet ondersteun, eerder as om kritiese denke, onafhanklike oordeel en behoorlike verifiëring te vervang.
Die uitdaging is dus nie net om KI te gebruik nie, maar om dit verantwoordelik te gebruik. Kenners waarsku dat ondernemings wat blindelings op KI-uitsette staatmaak, uiteindelik meer tyd kan spandeer om foute reg te stel as wat hulle aanvanklik bespaar het.
Vir baie Suid-Afrikaners is KI reeds deel van die alledaagse lewe – of dit nou gebruik word om e-posse op te stel, vergaderings op te som, navorsing te doen of bemarkingsmateriaal te skep. Kenners meen die volgende groot uitdaging is daarom nie die tegnologie self nie, maar hoe regerings, besighede en werkers daarby aanpas.
Die departement sê die aanstelling van ’n spesiale KI-gesant kom wanneer regerings, sakeleiers en internasionale instellings wêreldwyd toenemend saamwerk oor kwessies soos kunsmatige intelligensie, digitale transformasie en die toekoms van werk. Die doel is ook om te verseker dat Afrika se perspektiewe en prioriteite deel vorm van internasionale besluite oor die ontwikkeling en bestuur van KI.
Jamme het gesê KI verander reeds die wêreld, maar dat tegnologie sonder etiek, insluiting en respek vir menswaardigheid ongelykhede kan verdiep eerder as verminder.
“KI moet nie net slim wees nie, dit moet ook regverdig wees. Afrika moet nie bloot die toekoms van KI verbruik nie; ons moet help om dit te vorm,” het sy gesê.
Sy sê sy sien haar nuwe rol as ’n geleentheid om Afrika se bydrae tot wêreldwye KI-bestuur te versterk en te help verseker dat tegnologiese vooruitgang almal bevoordeel.
Jamme is die stigter en uitvoerende hoof van iamtheCODE, ’n wêreldwye organisasie wat meisies en vroue in bykans 90 lande toerus met vaardighede in kodering, kunsmatige intelligensie en digitale geletterdheid.
Sy het reeds meer as twee dekades se ervaring as raadgewer aan regerings, internasionale orga-nisasies en die private sektor oor tegnologiebeleid en digitale transformasie. (MALISSA SPIES)
Nuwe KI-gesant plaas Suid-Afrika in wêreldgesprek oor tegnologie
Foto: Unsplash