Hoewel dr. Migael van Velden al ses maande lank deel van Oudtshoorn se gemeenskap is, voel dit vir hom reeds soos tuis. Die jong dokter, oorspronklik van Lydenburg, sê hy waardeer die rustige tempo en egtheid van die dorp se mense.
“Dis ’n plek waar mens voel jy kan werklik ’n verskil maak,” vertel hy.
Van Velden het sy mediese graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi en is tans as ’n algemene praktisyn by Kannamed gevestig. Hy geniet die afwisseling wat familiemedisyne bied, van roetineversorging tot noodgevalle. “Ek hou daarvan dat elke dag anders lyk,” sê hy.
“Mens bou verhoudings met pasiënte oor tyd, maar jy kry ook die adrenalien en uitdaging van noodgevalle.”
Hy en sy vrou, dr. Ashleigh Merry, wat ook in die mediese veld is, woon tussen Oudtshoorn en George saam met hul twee katkinders. Buiten sy liefde vir sy werk, lê sy huwelik en persoonlike balans vir hom na aan die hart.
“My verhouding met my vrou is vir my baie belangrik. Ek probeer altyd tyd maak vir die mense wat vir my saak maak en vir die dinge wat my balans gee.”
Wanneer hy nie in die spreekkamer is nie, geniet Van Velden die buitelewe, veral tennis en om in die natuur te wees. Die Karoo se oop ruimtes en rustige atmosfeer is vir hom die ideale teenvoeter vir ’n besige beroep.
Wat sy nuwe werksomgewing by Kannamed betref, is hy vol lof. “Dis ’n plek waar mense mekaar ondersteun; jy voel nie asof jy gaan uitbrand nie. Daar is ’n goeie gees onder die kollegas.”
Met sy positiewe ingesteldheid en opregte belangstelling in mense sien Van Velden uit daarna om sy verhouding met die gemeenskap verder te verdiep.
“Ek sien uit daarna om saam met die mense van Oudtshoorn te groei. Dit is vir my ’n voorreg om deel te wees van die gemeenskap.” (MALISSA SPIES)
Nuwe dokter vestig hom in Oudtshoorn
Migael van Velden en sy vrou, Ashleigh Merry, het hul onlangs in Oudtshoorn kom vestig. Foto verskaf