DIE Calitzdorp Spa kry tans ’n nuwe voorkoms met opgraderingswerk wat verlede Maandag (17 Mei) daar afgeskop het.
Volgens Mario Appels, superintendent by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, behels die eerste fase van die opgraderingswerk die vervanging van die dakke van die ontvangsarea, hoofgebou en die bergchalets. Dié werk sal na verwagting einde Junie afgehandel wees.
Nuwe liggewig dakke van grasdakteëls op ’n staalbasis sal die huidige grasdakke in die oord vervang. Die diensverskaffer, Shivacon (Edms), is aangestel na ’n tenderproses verlede jaar.
Volgens Appels sal ’n tweede fase afskop sodra befondsing in die nuwe boekjaar, wat op 1 Julie afskop, beskikbaar is. Dié fase sal die opgradering van 20 swembadchalets, ablusiegeriewe by die kampeerplekke en vier swembadlapas insluit.
