Nog vol avontuurlus op 87!

Elias Olivier (87) maak gereed vir sy adrenalien-gevulde rit by die Mosselbaai Zipline. (Foto verskaf.)

SOOS die jare aanstap, vat die meeste mense dit al rustiger en kalmer met hul verjaardagvieringe.

Maar nie die 87-jarige Elias Olivier van Millenniumpark nie. Hierdie bekende van Oudtshoorn het sy 87ste verjaarsdag met ’n inspuiting adrenalien gevier!

Olivier het by die Mosselbaai Zipline afgegly – ’n rit van sowat 1100 m lank, waar ’n mens by tye teen tot 90 km/h oor die golwe by Mosselbaai se Punt af blits.

Volgens Olivier se dogter, Marianne Fletcher van Pretoria, het hulle op Woensdag 4 November by ’n restaurant gesit en gesien hoe mense die zip­line-ritte geniet.

“Pa het onmiddellik vir my gesê hy wil dit ook doen. Toe ek hom vra of hy seker is, kon ek reeds die glinstering in sy oë sien,” vertel Marianne
Oor sy belewenis sê Olivier bloot; “Ag, dit was lekker, ek sal dit weer doen.

Die mense van die zip­line het gesê ek is die oudste man wat tot nog daar afgegaan het,” vertel hy opgewonde.

Marianne voeg by dat dit baie opwindend was om haar pa die zipline te sien takel. “Ek was net benoud ek sou nie ’n mooi foto kon neem nie,” sê sy.

Olivier, wat reeds sedert November 2012 in Millenniumpark woon, het in Sutherland grootgeword. Hy het onder meer teologie gestudeer, diplomatieke diens in die buitelend verrig, en allerlei ander avonture en ervaringe beleef wat hy selfs in ’n boek oor sy lewe omskep het, getitel Met rooi pampoenvelskoene. Hy was ook betrokke by die daarstel van Die Koffiepot, ’n koffiekroeg, by Millenniumpark.

Olivier, wat duidelik steeds vol lewenslus is, het ander inwoners van Millenniumpark uitgedaag om die zipline aan te durf. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Nog vol avontuurlus op 87!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*