Die naweek van 12 en 13 Augustus 2023 het daar weer twee moorde plaasgevind.
Die eerste voorval was Saterdag omstreeks 21:15 toe Roydon Solomons (33) in die nek gesteek is naby ’n kuierplek in Hoogstraat deur ’n 22-jarige man. Paramedici is na die toneel ontbied, maar hy was reeds dood met hul aankoms.
In die tweede voorval is Morgan Malgas deur ’n 17-jarige man om 02:45 in die bors met ’n skerp voorwerp gesteek.
Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Ooggetuies het aan die polisie vertel dat die twee mans in ’n bakleiery betrokke was. Daar sal vandeesweek op beide mans nadoodse ondersoeke gedoen word om die oorsaak van hul dood te bepaal.
Beide aanvallers word van moord aangekla en sal in die Oudsthoorn landdroshof verskyn.
Dit bring dan die totale aantal persone wat hul lewens weens moord verloor na 17 vanaf Januarie 2023 in die Klein Karoo, waarvan 16 moorde met messe of skerp voorwerpe gepleeg is, en een met ’n knopkierie geslaan is.
Hier volg teruvoer ontvang vanaf sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie oor verledeweek se voorblad storie: “Betreffende die moorde, wil ek meld dat daar wel 11 insidente in die polisiëringsgebied van die Oudtshoorn polisiestasie aangemeld is.”
Verdagtes is gearresteer en sake is reeds voor die hof. Drank- en alkoholmisbruik veral tussen Donderdae en Sondae bly van die grootste bydraende faktore tot misdaad wat in hierdie tydperke gerapporteer word. Operasies, onder “Operation Shanela”, om ernstige- en geweldsmisdrywe te bekamp is reeds in plek.
Dit sluit in dat patrolies in hoë misdaadgebiede is wat opgeskerp is met spesifieke fokus op dwelm en drank uitlaat plekke. Stop- en deursoekings operasies met die doel om gevaarlike wapens te konfiskeer vorm ook deel van hierdie operasies.
Hierdie aksies toon reeds positiewe gevolge.” (Deur Angelique Erasmus)
Nog twee moorde skok die naweek, totaal nou 17
Foto verskaf