Cornelis Jacob Langenhoven, CJ Langenhoven of Sagmoedige Neelsie soos hy bekendstaan, is so sinoniem met Oudtshoorn en die Klein Karoo soos Volstruise en die Swartberge.
Langenhoven sou Saterdag 150 jaar oud gewees het, sou hy nog geleef het.
Dis nie aldag dat iemand ’n eeu en ’n half word en sy verjaarsdag steeds deur verskeie gevier word nie.
Wie was Langenhoven, anders as ’n digter, skrywer en bekend vir sy wyshede en gesegdes?
Hy is op 13 Augustus 1873 gebore, op ’n plaas in Hoeko sowat 10 km vanaf Ladismith, en het later na Oudtshoorn getrek, na sy huis Arbeidsgenot toe, waar hy bekendheid verwerf het.
Arbeidsgenot is vandag steeds ’n groot toerisme besienswaardigheid op Oudtshoorn.
In 1897 trou hy met die weduwee Lenie van Velden en hulle het een dogter, Engela, wat in 1901 gebore is.
Langenhoven se bekendste werk is seker die ou Suid-Afrikaanse volkslied wat hy in 1918 geskryf het. Hy het ook ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde en kultuurgeskiedenis.
Teen 1914 word hy parlementslid (eers as lid van die Volksraad, en later as Senator), waar hy die stryd om Afrikaans amptelik te erken as taal tot die volgende vlak geneem het. Hy was ook stigterslid van die Afrikaanse koerant Die Burger.
Een van sy bekendste storiekarakters is seker “Herrie”, die olifant.
Hier volg ’n uittreksel uit een van Daniel Lötter se verhale oor Langenoven en “Herrie”.
So wie was Herrie nou eintlik?
Ons ontmoet hom die eerste keer in “Sonde met die bure” in 1921. Volgens hierdie verhaal het Langenhoven die doodsonde vir enige Oudtshoorniet gepleeg – hy het geweier om te konformeer tot die bestaande orde.
En daardeur het hy baie moeilikheid met die mense rondom hom gehad. In daardie dae is daar ’n bankrot sirkus op die dorp en die diere word opgeveil – en daar koop Neelsie die olifant vir £10!
Om darem nut te gee aan die wins-koop bekom hy ’n ou trem uit die Kaap, sit nuwe wiele onder die ding en span die olifant voor hom in – en dit word die Langenhoven’s se mobiele vakansiehuis.
Die hele storie was eintlik maar ’n spottery met die ryk boere wat luukse vakansiehuise by die see besit het.
Uiteindelik neem die tog die Langenhovens tot in Meiringspoort.
Dis ’n komiese en lewendige verhaal verweef met herkenbare plekke en karakters. Langenhoven beskryf byvoorbeeld die vertrek van Arbeidsgenot met die trem wat soos ’n dronk ding agter die olifant aanslinger. Op die hoek van Baron van Reedestraat en St Johnstraat, is daar toe moeilikheid – die trem skep die veranda van die hoekwinkel. En dadelik is daar twis.
Waarom die naam “Herrie” gekies is, weet ons nie. Die Langenhoven-kenner, prof John Kannemeyer, het bespiegel dat dit dalk ’n fyn sinspeling was op die Khoisan-opperhoof, Autshomao, wat deur Van Riebeeck aan die Kaap aangetref is en wat Engels geleer het by verbyvarende matrose en homself voorgestel het as “Harry”.
Hoe dit ook al sy, “Herrie” was dadelik ’n geliefde karakter. In 1925 maak “Herrie” weer sy verskyning in “Herrie” op die ou tremspoor.”
Langenhoven sluit die verhaal van “Herrie” op die ou tremspoor weereens in Meiringspoort af – die plek wat hy beskryf het met die woorde: “Om elke draai ’n drif en deur elke drif ’n draai.”
Hy skryf: “En daar, op die piekniekplekke aan die voet van die ontsagwekkende bergkranse, en met die dreun van die stortende water in ons ore, en sy koele, frisse, reine heerlikheid in ons gesig, met niks as skoonheid en soetheid vir ons laaste herinnering, daar sal ons nou afskeid neem van ons stille, ongesiene maar altyd aanwesige en aan alles deelnemende metgesel, die vriendelike leser”. Na hierdie beskrywing loop “Herrie”-koors hoog.
Die lesers van Die Burger en bewonderaars van Langenhoven wil weet waar dié piekniekplek van hom en “Herrie” presies is. En daarom ry hy in die lente van 1929 na Meiringspoort en kerf self “Herrie” se naam op ’n klip uit. En daar staan dit vandag nog.
Die klip is op 1 Augustus 1971, 98 jaar na Langenhoven se geboorte en net 2 jaar voor die groot Langenhoven Fees van 1973, tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Was daar regtig ’n olifant soos “Herrie”?
Nee, daar was nie – al verkies mens self om te glo dat “Herrie” se gees maar nog steeds in Meiringspoort huiwer, want vir baie het hy nog altyd gelééf!
Sagmoedige Neelsie word 150
Sagmoedige Neelsie en sy getroue hond Jakhals. Die foto kom uit die Suid-Afrikaanse Panorama, ‘n tydskrif met ’n artikel oor die eeufees.