Van Pretoria tot Kaapstad om entrepreneurskap te bevorder

Dr Nico de Klerk (58) vroeër die week by een van Oudtshoorn se ingange. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE Pretorianer dr Nico de Klerk (58), wat op 18 Julie – op Nelson Mandeladag – met ’n staptog by die standbeeld van Nelson Mandela voor die Uniegebou in Pretoria begin het, het Maandag op Oudtshoorn aangekom.
Die staptog oor 2 615 km eindig op 24 November by die Parlementsgebou in Kaapstad. Suid-Afrikadag word op dié dag gevier.
De Klerk se doel met hierdie staptog is om entrepreneurskap te bevorder en Suid-Afrikaners se aandag te vestig op ’n “afhanklikheidskultuur” wat in die land heers.
“Suid-Afrika is Afrika se onderpresteerder as dit kom by entrepreneuskap. Hierdie staptog is my ge- skenk aan my land waarin ek ons landsburgers se ingesteldheid wil verander.”
Volgens De Klerk is daar ongelooflike potensiaal vir entrepreneurs in Suid-Afrika. Hy was die nasionale koördineerder en deel van die Suid- Afrikaanse span wat in 2014 aan die Wêreldkampioenskap vir Entrepreneurs in Moskou deelgeneem het. Die
Suid-Afrikaners het daar algeheel vierde onder die 35 deelnemende lande geëindig.
De Klerk het sy doktorsgraad in filosofie verwerf, met sy tesis wat gehandel het oor die ingesteldheid (“mindset”) van mense wat pelgrimstogte aanpak.
Hierdie staptog gaan egter oor baie meer as stap en bewusmaking, maar veral oor die toekoms.
De Klerk sê hy poog om op elke dorp waar hy kom met skole, kerkleiers en kinders van 16 en 17 jaar oud kontak te maak.
“Die jeug wat nou in graad 10 en graad 11 is, is positief en opgewonde oor die toekoms.
“Met hierdie tog wil ek netwerke opbou sodat ons die jeug in staat kan stel om vir hulleself ’n toekoms te bou, in plaas daarvan om na die rege-ring te kyk om vir hul te sorg.”
Hy glo die groot entrepreneurs-geleenthede lê in sosiale netwerke, tegnologie en navorsing.
“Ek glo dat ons baie kan vermag as ons saamstaan en saamwerk.
“Hierdie is die goue geleentheid om Suid-Afrika te lig, maar dit begin by ’n mindset. As jy jou mindset verander, kan mens berge versit.