Johan Liebenberg en sy orkes, wat al sinoniem is met die musiek van Neil Diamond, bring dié ikoon se musiek volgende naweek na die Klein Karoo. Foto verskaf
VOLGENDE Saterdag, 31 Augustus, beloof om ’n aand van “beautiful noises” te wees wanneer al die treffers van die legendariese sanger Neil Diamond in ’n konsert op die uitvoer-granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn gehoor kan word.
Konsertgangers word genooi om reeds van 18:00 af saam met vriende en familie op die terras van Celebratio te kuier.
Van die omgewing se restaurante en wynkelders soos Karooboom, Bella Cibo, Nostalgie, Black Mountain Gin en Calitzdorp Wynkelders sal die aand kos en wyn verkoop, dus beloof dit om ’n feestelike aand onder die sterrehemel van die Klein Karoo te wees.
Die konsert, getiteld The Music of Neil Diamond, is reeds landwyd en in Namibië met groot sukses opgevoer deur Suid-Afrika se eie “Neil Diamond”, Johan Liebenberg. Johan bring ’n orkes van vier lede saam en die hele idee is om die klank so na as moontlik aan die oorspronklike te bring.
Neil Diamond is een van die mees suksesvolle kunstenaars van alle tye, met meer as 25 miljoen plateverkope wêreldwyd.
Hy het die treffers ingeryg en ’n verstommende 38 top-tien-liedjies in sy loopbaan gehad. Die lys van sy liedjies wat steeds vandag, dekades nádat dit vrygestel is, gewild is, sluit in “Sweet Caroline”, “Forever in Blue Jeans”, “Beautiful Noise”, “America”, “I am I Said”, “Play Me” en “Desiree”.
Ál die liedjies vorm deel van die konsert. Dit beloof dus om ’n ware “Hot August Night” in die hartjie van die Klein Karoo te wees.
Die vertoning begin om 20:00 en duur ongeveer twee ure. Kaartjies is beskikbaar op die webwerf www. celebratio.co.za of by PostNet in die Queen’s Mall op Oudtshoorn. Kaartjies wissel van R180 tot R380 (VIP). Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd. Vir meer inligting bel Gerhard Meyer: 082 802 7138.