Janine se trekklavier gevind!

’n Gelukkige Janine Fourie vandeesweek met haar trekklavier.  Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE 60 jaar-oue trekklavier van Janine Fourie, Oudtshoorn-musikant, is die naweek in die veld by Oudtshoorn gevind!

Die trekklavier wat aan haar oupa behoort het en baie sentimentele waarde vir Janine het, is verlede Dinsdag in die vroeë oggendure uit haar motor gesteel, nadat haar motor se venster gebreek is om toegang te kry.

’n Dankbare Janine, wat die trekklavier gereeld in haar vertonings gebruik, het Maandagoggend aan Die Hoorn gesê die trekklavier was nog net so in die kas waarin dit gesteel is, en dit is nie beskadig nie.

Die trekklavier is Saterdag gevind deur ’n man wat met sy honde in die veld in die omgewing van Spekkop gaan stap het.

Hy het die trekklavier na iemand geneem wat dit herken en Janine en die polisie laat weet het.

Janine is so in haar noppies dat haar trekklavier gevind is, dat sy vanaand ’n gratis vertoning by La Dolce Vita gaan hou om die terugvind van haar trekklavier te vier! Die vertoning begin om 18:30.