Negejarige meisie verdrink by Bergoord

Janeescha Rondganger (9).

Janeescha Rondganger (9).

’N NEGEJARIGE meisie van Oudtshoorn, Janeescha Rondganger, het Sondag (15 Januarie) by die Kango Bergoord buite die dorp verdrink.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Janeescha omstreeks 14:00 saam met ander kinders geswem, maar het niemand gesien wat gebeur het nie.

Een van die kinders het volgens Visser iets op die bodem van die swembad gevoel en toe hulle kyk wat dit was, het hulle op klein Janeescha se liggaam afgekom. Volgens Visser was haar fa­milie besig om by die Bergoord te braai toe die voorval plaasgevind het.

Janeescha was ’n leerder van Saturnus Pri-mêr. Volgens Crystal Hufke, haar klasonderwyser van verlede jaar, sê haar hart is stukkend. “Dit voel asof ek my eie kind verloor het. Ek gaan haar baie mis.

“Janeescha was ’n pragtige meisie­kind. Sy het die mooiste en breedste glimlag gehad.”

Hufke vertel dat Janeescha altyd gretig was om te help met takies in die klas; veral ook wanneer haar maats nie iets verstaan het nie. Sy was ook baie lief vir leer en lees.

Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit aan wie die Bergoord behoort, sê die munisipaliteit is besig met ’n interne ondersoek na die verdrinking. Volgens hom is die polisie en ambulans dadelik ontbied toe die kinders hulp gaan vra het, maar is Janeescha met die aankoms van die ambulansdienste op die toneel dood verklaar.

Sy is die dogter van Hanna-Line Malgas. Haar pa is oorlede.

’n 13-jarige meisie van Uitenhage het op 21 September 2015 ook by die Bergoord verdrink. Sy was lid van ’n skoolgroep wat Oudts­hoorn besoek het.