
Roeland Gabriël van Oudtshoorn met sy selfoon wat op die Tiep gesteel is en wonder bo wonder weer gevind is.
’N GEBED, vasberade ondersoekwerk en die hulp van ’n knap speurder het hom gehelp om sy selfoon terug te kry nadat dit by die Tiep gesteel is, sê Roeland Gabriël, toeroperateur van Oudtshoorn.
Roeland vertel hy het verlede Vrydag (13 Januarie) tuin- en huisafval by die Tiep, soos Oudtshoorn se vullisstortingsterrein bekend staan, gaan aflaai.
Toe hy stilhou om die vullis af te laai, het vier mense na die sleepwa waarop die vullis was, gegaan om te help aflaai. Verder het hy niemand gesien nie.
Volgens Roeland het hy die deure van sy bakkie gesluit en is hy agter na die sleepwa aan die bakkie se passasierskant om hand by te sit.
Van daar af het hy kort daarna ’n vyfde man gesien wat uit die bloute voor sy bakkie verby geloop het. “Ek weet nie waar hy vandaan gekom het nie. Hoewel hy half verdag voorgekom het, het ek my nie aan hom gesteur nie.”
Roeland vertel hy is normaalweg baie veiligheidsbewus en is seker daarvan dat hy sy bakkie se deure soos gewoonlik gesluit het.
Nadat die vullis afgelaai is, is hy terug huis toe. Daar kon hy nie sy selfoon in die hande kry nie. Hy het sy selfoon se nommer van ’n ander foon af gebel. “Toe dit nie lui nie, klaarblyklik omdat dit afgeskakel was, het ek rondgebel na waar ek die dag was, maar kon dit nie opspoor nie.
“Ek het toe besef dit is waarskynlik by die Tiep gesteel en dat dit die man was wat voor die bakkie verbygeloop het. Hy het waarskynlik ’n jammer gebruik toe ek my deur wou sluit of ek het dalk per ongeluk die oopsluitknoppie gedruk toe ek die sleutels in my sak gesit het.”
Roeland sê hy het eers sy selfoon se simkaart geblokkeer en is toe terug Tiep toe om met sy eie private ondersoek- en speurwerk te begin.
“Ek het inligting by informante ingewin oor die verdagte man. Ek het verneem hy is van die 27’s-bende en ’n informant het my ook gaan wys waar die man uithang. Ek kon hom egter nie in die hande kry nie.”
Volgens Gabriël het hy gebid en was hy vasbeslote om sy selfoon terug te kry. Sy “speurbrein” het ook oortyd begin werk.
“Ek het die naweek gehoor my foon, wat my R4000 gekos het, word vir R400 te koop aangebied. Later het ek gehoor dit is vir R300 verkoop.”
Roeland vertel hy het Maandagoggend toevallig ’n speurder raakgeloop en hom vertel wat se inligting sy ondersoek tot dusver opgelewer het.
“Ek het hom toe gevra om saam met my te kom om die verdagte te gaan probeer aankeer. Hy het egter gesê vir my eie veiligheid moet ek liewer nie saamgaan nie.
“Hy sal verder gaan ondersoek instel.
“Hy het my toe die middag om tweeuur gebel en gesê hy het goeie nuus vir my. Hulle het my selfoon gevind!
“Ek is baie beïndruk dat die speurder so gou my selfoon teruggekry het. Dit is duidelik dat hy sy storie ken,” vertel hy.
Volgens Roeland is die foon se simkaart en geheuekaart egter verwyder. “Daar was meer as 1000 telefoonnommers en kontakte op my ge-heuekaart wat nou verlore is.
“Ek hoop egter nog om die geheuekaart ook op te spoor.”
Roeland sê hy het ’n klag van diefstal by die SAPD ingedien en die saak is nou in hul hande.
• Roeland is die eienaar van Swartberg Mountain Tours.