’n Man wat blywende verskil in gemeenskap gemaak het

RAYMOND Avontuur was ’n man wat ’n permanente verskil in sy gemeenskap gemaak het. ’n Sportheld. ’n Familieman.

Dit is die woorde waarmee een van Raymond Avontuur se seuns, Ian, sy pa die week beskryf het. Dié merkwaardige Oudtshoorniet is Sondag (13 Desember) in die ouderdom van 72 jaar in die George Hospitaal aan Covid-19-verwante oorsake oorlede.

Avontuur was jare lank ’n onderwyser op die dorp, maar veral bekend vir sy groot bydrae tot krieket in die SWD en ook vir sy bydrae by die radiostasie Eden FM.

“Ons neem afskeid van ons Solid Gold Sunday-aanbieder, voormalige raadsvoorsitter, mentor en passievolle ondersteuner. Mag jou siel in vrede rus. Ons sal jou goue treë nooit vergeet nie. Dankie dat jy jouself so onselfsugtig gegee het,” het Morne Pietersen, stasiebestuurder van Eden FM, op sosiale media geskryf.

Die uitvoerende hoof van die Suid-Westelike Distrikte Krieket, Albertus Kennedy, het Avontuur as ’n krieketpionier beskryf en gesê die krieketliggaam het met groot hartseer van sy dood kennis geneem. Rudy Claassen, president van SWD Krieket, het gesê die krieketgemeenskap van die SWD eer Avontuur se onselfsugtige bydrae oor ’n tydperk van meer as 50 jaar.

Avontuur het sy krieketloopbaan in die SWD in 1961 begin toe hy ’n leerder was van Hoërskool Morestêr. In 1964 het hy as 16-jarige by die Union Stars-krieketklub aangesluit, en dieselfde jaar sy debuut vir die SWD gemaak. Dit was die begin van ’n provinsiale krieketloopbaan wat oor 24 jaar gestrek het. Hy was jare lank die rekordhouer vir die hoogste totaal in klubkrieket, naamlik 145. ’n Persoonlike hoogtepunt in sy loopbaan was toe die SWD, onder sy aanvoering as kaptein, in die 1980’s die Oostelike Provinsie geklop het.

Hy het baie hoede oor die jare in SWD Krieket beklee: Hy was van 1996 tot in 2004 die Jeug- en Ontwikkelingskoördineerder en oor die jare ook skeidsregter, afrigter, sameroeper van die keurkomitee en uitvoerende lid.

Hy is in 2008 met ’n Legende-toekenning van die Wes-Kaapse Departement van Sport vereer; in 2017 deur Krieket Suid-Afrika as een van die pioniers van die mini-krieketprogram waarby hy 20 jaar betrokke was; en in 2018 met die Eden Sportraad se presidensiële toekenning vir sy bydrae tot krieket in die SWD.

Avontuur word oorleef deur vier seuns, Ian, Rashael, Clyde and Sammy-Joe, en ’n dogter, Natalie. (Deur Liesel le Roux)