Hofsake kom oor sluiting van strande

DIE Tuinroetedistrik, waarvan die Groter Oudtshoorn en Kannaland deel uitmaak, is sedert middernag Maandag deur pres Cyril Ramaphosa ook tot brandpunt verklaar.

Ramaphosa het in ’n toespraak die aand ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan om die verspreiding van die virus te stuit en mense se lewens so te help red. Hy het onder meer daarop gewys dat tieners tussen 15 en 19 jaar nou die eerste keer die groep is met die groot besmettingsyfers met die virus. Hulle doen dit by sosiale byeenkomste op en dra dit dan weer oor aan onder meer hul gesinne. Hy het verwys na die Ballito Rage waar meer as 1000 jongmense uit Gauteng besmet is.

Ramaphosa se sluiting van die strande en openbare parke in die Tuinroete van gister (16 Desember) tot 3 Januarie is egter met groot teenstand begroet.
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het Dinsdag aangedui dat hy die aangeleentheid met die nasionale regering gaan bespreek.

“Die besluit om die strande in die Tuinroete vir die hele feestyd te sluit, sal verwoestend wees vir die streek se ekonomie wat in ’n groot mate afhanklik is van toerisme. Werk is nie iets wat net opgeoffer kan word nie. Dit is vir baie mense in ons provinsie en land die verskil tussen kos op die tafel en honger. Wanneer mense hul werk verloor, kry ’n tweede pandemie van honger, armoede en ongelykheid momentum.

“Ons standpunt was nog altyd dat die strande in die provinsie moet oop bly, maar ook dat behoorlike stappe gedoen moet word om die veiligheid van mense te verseker. Strande is buite waar goeie ventilasie is – presies die plekke wat ons mense aangemoedig om tydens die feestyd te besoek. Ons glo hierdie ingryping moet heroorweeg word.

’n Dringende aansoek teen die sluiting van strande is ook Dinsdag in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien deur die Grootbrakrivier Sakeforum, Louis Cook (gastehuiseienaar en voorsitter van die Gastehuisgilde van Mosselbaai) en AfriForum. Dit word op 22 Desember aangehoor. Die aansoek vra die hof om dié regulasies oor die strande ongrondwetlik, irrasioneel en ongeldig te verklaar.

So lyk van die belangrikste regulasies

• ’n Aandklokreël geld van 22:00 tot 04:00 in die Tuinroetedistrik en ander brandpunte, maar van 23:00 tot 04:00 in die res van die land. Alle lokale moet reeds ’n uur vroeër sluit – dus 21:00 in die Tuinroete.

• Binnenshuise byeenkomste word tot 100 men­se en in kleiner venues tot 50% van die kapasiteit beperk. Buitenshuise byeenkomste word tot 250 mense beperk.

• Strande en openbare parke in die Oos-Kaap en Tuinroetedistrik is vanaf 16 Desember 2020 tot 3 Januarie 2021 vir die publiek gesluit. Strande in KwaZulu-Natal is op 16, 25, 26 en 31 Desember 2020 en 1, 2 en 3 Januarie 2021 gesluit, met strande in die Noord-Kaap en die Wes-Kaap wat oop is. Strande mag slegs tussen 09:00 en 18:00 oop wees.

Nasionale en provinsiale parke en ander parke waar toegangsbeheermaatreëls en toegangsbeperkings reeds bestaan, sal oop wees.

• Byeenkomste ná afloop van begrafnisse (“after tears parties”) word verbied.

• Drankverkope mag slegs vanaf 10:00 tot 18:00 Maandae tot Donderdae plaasvind.

• Restaurante, tavernes en kroeë mag drank verkoop onderhewig aan die aandklokreël.

• Wynproe en drankverkope by wynkelders en wynplase mag slegs Maandae tot Saterdae van 10:00 tot 18:00 plaasvind.

• Bestuurders van openbare vervoer is daarvoor verantwoordelik dat passasiers maskers dra, terwyl eienaars van sentrums, geboue en besighede daarvoor verantwoordelik is dat mense binne die gebou maskers dra. Hulle kan beboet word as hulle nie dié verantwoordelikhede nakom nie. (Deur Liesel le Roux)