Die musiekonderwyser van Oudtshoorn wat van statutêre verkragting, seksuele aanranding en seksuele gereedmaking van ’n minderjarige aangekla word, het Maandag sy eerste verskyning in die streekhof gemaak.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, van die plaaslike regshulpraad, het die hof om uitstel gevra vir afskrifte van die dossier en instruksies van die beskuldigde. Borgtog aan die 31-jarige beskuldigde is op 6 Maart vanjaar deur landdros N Khan geweier.
Die staat het met die aanvang van die borgaansoek ’n klagte van verkragting teen hom teruggetrek.
Die dade met die 13-jarige meisie vir wie die beskuldigde klavierlesse gegee het, is glo in 2024 gepleeg. Hy het homself aan die polisie oorgegee nadat hy van die klagtes verneem het.
Die beskuldigde het met sy borg-aansoek aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op al die klagtes. Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is uitgestel tot 6 Junie. (GARNETT WICOMB)
Musiekonnie in streekhof
