Musiek-onnie saak uitgestel

Die verhoor van ’n musiekonderwyser van Oudtshoorn, wat teregstaan op aanklagte van statutêre verkragting, seksuele aanranding en die gereedmaking van ’n minderjarige, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot 24 Junie uitgestel nadat ’n nuwe regsverteenwoordiger vir die beskuldigde op rekord gekom het.

Volgens die klagstaat hou die aanklagte verband met beweerde voorvalle in 2024 wat ’n 13-jarige meisie betrek het, aan wie die beskuldigde na bewering klavierlesse gegee het.

Die beskuldigde is op 6 Maart 2025 borgtog in die distrikshof geweier nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

Tydens sy borgtogaansoek het hy aangedui dat hy onskuldig op al die aanklagte sal pleit.

Sy nuwe regsverteenwoordiger, adv. Zac Lipschitz, het die hof om ’n uitstel versoek om verdere instruksies van sy kliënt te bekom.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks, met adv. Nadia Arnolds as aanklaer. (GARNETT WICOMB)