Vier in hof vir moord

Die saak teen vier verdagtes wat van moord en aanranding om ernstig te beseer in 2022 aangekla word, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn streekhof tot September uitgestel. Een van die beskuldigdes wat intussen nog ’n misdaad gepleeg en in aanhouding is, is nie na die hof gebring nie.

Agiel Olkers( 23), Jesmayne Plaatjies (23), Giaan Kammies (23) en Selbourne April (27) word daarvan aangekla dat hulle op Nuwejaarsdag 2022 in Bobby Le Rouxstraat, Toekomsrus, vir Martin Piedt met ’n piksteel geslaan het. Hulle het ook na bewering hom geskop, op sy kop getrap en met klippe gegooi.

Kammies word ook daarvan aangekla dat hy dié dag vir Piedt in Neppon met ’n glas in die gesig gegooi en met die vuiste geslaan het.

Streeklanddros Daniel Boks het aan die agt staatsgetuies verduidelik dat die verhoor nie sonder Kammies kan voortgaan nie.

Die saak is daarna finaal vir afhandeling tot 2 September 2026 uitgestel en sal op een dag afgehandel word.

Olkers, Plaatjies en April se borgtog is verleng en Kammies sal in aanhouding bly. (GARNETT WICOMB)