CP Museum bly teiken vir ­vandalisme

Foto regs: Die bestuurder het die foto waar die kinders lê, vanoggend geneem. Foto links: ’n Opgerolde matras, kartondose en verskeie kledings­stukke by dié slaapplek langs die museum. Foto: Ilze-Mari Gründling

Foto links: Die foto is vanoggend deur die bestuurder van die museun geneem. Foto regs: ’n Opgerolde matras, kartondose en verskeie kledings­stukke by dié slaapplek langs die museum. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DAAR is nog steeds kinders wat snags by die CP Nel Museum slaap, vertel Lelanie Boonzaaier, waarnemende bestuurder.

“Ons het onlangs ’n opgerolde matras langs die museum gekry. Daar is bewyse dat die straatkinders steeds hier slaap. Dit is ’n groot probleem om­dat hulle al voorheen by die museum probeer inbreek het. Dit affekteer ook toe­risme en die erfeniska­rakter van die gebou.”

Boonzaaier vertel dat straatkinders ook die kragboks en omliggende heinings gevandaliseer het.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudts­hoorn Munisipaliteit, sal wetstoepas­singsbeamptes so gou moontlik ge­­stuur word om seker te maak dat die kinders nie daar slaap of die gebou vandaliseer nie. “Dit is moeilik op die oomblik. Die dorp het nie genoeg wetstoepassers nie, maar so­dra dit moontlik is, sal personeel gestuur word.”

Aurelia Oliphant, ook ’n munisipale woordvoerder, sê dat hulle wel ’n plan sal maak met die beskadigde heinings.

“Die elektrisiteitsdepartement is tans besig om daarna om te sien en sal so gou as moontlik die opening in die heining met sementblokke herstel. Parke en Rekreasie sal ook gereeld personeel stuur om die gebied skoon te maak.”

• Die Hoorn het op 17 Maart berig dat straatkinders ’n toergids met ’n mes aangeval en toeriste geterroriseer het by die museum.