BEIDE hospitale op Oudtshoorn het bevestig dat bewerings dat mense daar beland het as gevolg van Oudtshoorn se kraanwater, nie korrek is nie.
Oudtshoorn se water het verkleur na die naweek se harde reën en flitsvloede. Die verkleuring van die water word volgens die munisipaliteit se waterafdeling waarskynlik veroorsaak deur modder asook plantmateriaal afkomstig van ’n gebied om die Raubenheimer-opvangsdam wat einde Desember afgebrand het.
Oudtshoorn se drinkwater is bergwater wat uit die Swartberge kom.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het vanoggend watertoetse laat doen waarvan die uitslae môre beskikbaar sal wees. Die burgemeester, Colan Sylvester, het inwoners en besoekers versoek om voorlopig kraanwater te kook voordat hulle dit drink totdat die uitslae van die toetse beskikbaar is.
Twee toetse is op die water gedoen – een om die ysterinhoud te meet en een om die bakterietelling te bepaal.
Sylvester het gesê die munisipaliteit is bewus van boodskappe op sosiale media dat mense na bewering as gevolg van die water in die hospitaal beland het. “Ons kan egter bevestig dat die Oudtshoorn Provinsiale Hospitaal en die Klein Karoo MediClinic geen pasiënte ontvang het wat verband hou met die bewerings nie.”
“Ons wil mense versoek om hulle daarvan te weerhou om onnodig paniek in die gemeenskap te saai en die kwessie in die hande van die munisipaliteit te laat,” het Sylvester gesê.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid, het raad gehad vir mense wat gastro-interitis wil voorkom: “Die getal gastro-enteritis-gevalle wat ons onlangs by die hospitaal behandel het, is normaal vir hierdie tyd van die jaar. Was jou hande gereeld en handhaaf goeie higiëne in en om jou huis, sowel as waar jy ook al mag wees tydens jou vakansie, om jou kanse te verlaag om gastro-enteritis te kry.”