ALLE afdelings van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit kon nie Maandag (1 Junie 2020) hul deure open nie omdat ’n tenderproses vir onder meer beskermende klere, maskers en koorspenne nie toegeken kon word nie as gevolg van die hoë pryse van tenderaars.
Munisipaliteite mag ten volle tydens vlak 3 open.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, moet die munisipaliteit beskermende klere vir munisipale werknemers verskaf en ook sorg vir maskers en koorspenne om hulle en die publiek te beskerm.
’n Tenderproses hiervoor wat drie weke gelede begin is, kon egter nie afgehandel word nie omdat die tenders hoër was as die begroting beskikbaar. Die tenderproses sal nou herhaal word.
Intussen is die essensiële dienste wat tydens vlakke 4 en 5 gelewer is, steeds beskikbaar, terwyl munisipale gryswater van Woensdag (3 Junie 2020) weer getap kan word.