’n Voormalige assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat op twee klagtes van korrupsie en een van bedrog skuldig bevind is, sal tot die einde van die maand moet wag voordat hy sal weet wat sy lot is. Frikkie van Staden (53), wat steeds in diens is van die munisipaliteit, se saak is verlede Maandag na die slotbetoë van die staat en die verdediging in die streekhof tot 28 April uitgestel.
Die hof het bevind Van Staden het tussen Maart 2011 en Julie 2014 die munisipaliteit onregmatig beïnvloed om werk te verskaf aan ‘n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, wat aan sy skoonsuster, Frances Booysen, behoort het.
’n Bedrag van byna R2 miljoen is aan Booysen betaal vir die onderhoud van paaie en huur van gereedskap en toerusting. Sy het na elke betaling in haar bankrekening die geld onttrek en dit dan aan die beskuldigde oorhandig waarvoor sy dan elke keer tussen R500 en R1 000 ontvang het.
Van Staden se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof vir ’n korrektiewe toesigvonnis tesame met ’n opgeskorte vonnis gevra om die beskuldigde uit die tronk te hou en sodat hy sy werk by die munisipaliteit kan behou.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, sê egter dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees vir die ernstige misdrywe waaraan Van Staden skuldig bevind is,
“Indien die minimum vonnis van vyftien jaar skokkend sal wees, sal ’n vonnis van korrektiewe toesig en ’n opgeskorte vonnis ook skokgolwe deur die dorp stuur,” het Pretorius gesê.
Volgens hom verskil korrupsie en bedrog van ander sake omdat dit fyn beplan word en die oortreder finansiële voordeel daaruit trek en dikwels van belastingbetalers se geld vir hom- of haarself neem. “Die erns van korrupsie kan nie oorbeklemtoon word nie omdat dit gulsigheid is, Dit lê die land lam,” het Pretorius gesê. Volgens hom moet ’n boodskap uitgestuur word dat korrupsie en bedrog nie deur die howe geduld kan word nie
Die saak dien voor streeklanddros Neels Nortje. (Deur Garnett Wicomb)