Mooie Minché die kampioen!

• Senior model-wenner by Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste
• TV-werklikheidsreeks op pad

Links: Minché van der Westhuizen (16), ’n wêreldkampioen uit die Klein Karoo!                                                               Foto: Facebook

Bo: Minché van der Westhuizen (16), ’n wêreldkampioen uit die Klein Karoo! Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
’N GRAAD 10-LEERDER van die Hoërskool Oudtshoorn, Minché van der Westhuizen (16), is Vrydag by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoe­rende Kunste in Los Angeles aan­gewys as die wenner van die senior model-afdeling.
Suid-Afrika het vanjaar die 21ste keer aan dié wêreldkampioenskap deelgeneem en teen deelnemers van 50 ander lande meegeding.

“Dit voel nog onwerklik dat ek so ’n groot prestasie behaal het,” het Minché vandeesweek vanuit die VSA laat weet.
Sy sê die hoogtepunt van haar deelname in Los Angeles was toe sy in die modelafdeling vir seniors as topmodel van die wêreld op internasionale televisie verskyn het.

Minché sal moet gewoond raak aan haar gesig op TV.

Sy is eersdaags op Via (DSTV kanaal 147) te sien in ’n nuwe werklikheidsreeks oor die Suid-Afrika­ners en Namibiërs se deelname aan die wêreldkampioenskap vir uitvoe­rende kunste!

Die reeks, getitel Hollywood, hier kom ek!, volg 13 van die jong deelnemers, met Minché een van die 13.

Vir Minché was dit vanjaar haar tweede probeerslag om aan die wêreldkampioenskap deel te neem.

Die Dawrette Heyns Modeling Academy van Upington – waar Minché en haar ouers tot verlede jaar gewoon het – het haar in 2017 ingeskryf vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kuns­te, maar sy het nie gekwalifiseer het nie.

Vanjaar het die modelagentskap haar weer daarvoor ingeskryf en is sy tydens die kampioenskap begin  April genooi om aan die wêreldkampioenskap in Los Angeles te gaan deelneem.

Minché se pa, Koedoe van der Westhuizen, wat in die Calitzdorp-omgewing boer, het Dinsdag aan Die Hoorn gesê hy en sy vrou is baie trots op Minché.

Minché en haar ma, Marinda, wat haar dogter na die VSA vergesel het, het gister teruggekeer na Suid-Afrika.