Jean-Pierre Oosthuizen (32) en sy ma, Ina. Foto: Facebook
Deur Schalk le Roux
DIE Polisie ondersoek ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na aanleiding van die dood van ’n bekende oud-inwoner van Oudtshoorn, Jean-Pierre Oosthuizen (32), algemeen bekend as Boom.
Oosthuizen is Saterdagmiddag dood in sy woonstel in Diasstrand, Mosselbaai, gevind.
Hy is verlede Woensdagaand in die Life Bay View Hospitaal op Mosselbaai opgeneem ná ’n voorval in ’n kuierplek op Mosselbaai waartydens hy ernstige kopbeserings opgedoen het.
Hy is Vrydag uit die hospitaal ontslaan. Hy het vermoedelik later die dag ’n klag by die Polisie gaan indien waarna hy een of ander tyd terug na sy woonstel, Tweekuilen, is.
Dit is nie bekend wanneer Oosthuizen oorlede is nie, maar sy liggaam is Saterdagmiddag aan die bokant van die trap op pad na sy slaapkamer gevind.
Ao Pieter Koekemoer, woordvoerder van die Polisie op Mosselbaai, sê die ondersoek na Oosthuizen se dood is aan die gang en die ondersoekbeampte het reeds begin om getuies te ondervra.
“Daar word ook nog gewag op ’n patologiese verslag,” het hy gesê.
Oosthuizen, ’n groot diereliefhebber, het by tye in Afghanistan gewerk waar hy honde opgelei het.
Hy word oorleef deur sy pa, Ian Oosthuizen, wat in die Polisie op Oudtshoorn was, maar nou in Afganistan werk, sy ma, Ina Westraad (née Terblanche) en twee broers, Daniël en Hannes.
Voorlopige reëlings is dat sy begrafnisdiens volgende Vrydag om 11:00 in die NG Moederkerk op Oudtshoorn sal plaasvind.
• Volgens sy ma was Jean-Pierre ’n vriendelike mens met ’n ruim hart vir ander. “Hy laat ’n groot leemte in ons lewens agter,” het sy gesê.
Westraad is gister in die hospitaal opgeneem nadat sy siek geword het.