MJ getuig oor doodsdreigemente

“EK het my allerbeste probeer om Maggie te laat afsien van haar planne om haar man te vermoor.. Ek het haar by meer as een geleentheid gesoebat, maar vandag weet ek sy het iets in haar wat niemand uit haar kan neem nie.”

So het ‘n netjies geklede Masithembe (MJ) January, wat saam met Magdaleen Titus, Natashia Stuurman en Justice Mooi teregstaan op aanklag van die moord op Preston Titus, Donderdag (14 November 2019) in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn getuig.

Volgens hom was daar tydens hul affair nooit tyd om oor haar man te praat nie.

“En ek sal nooit daaraan dink om iemand dood te maak nie, ” het hy gesê.

Hy het ook getuig dat hy in die vroeë oggendure van 2 Desember 2017 ‘n oproep van Mooi ontvang het. “Dit was skokkend wat hy my meegedeel het.”

Mooi het volgens MJ aan hom gesê: “Nou, luister, ons het die job gedoen wat Maggie wou hê. Probeer om haar in die hande te kry en sê vir haar om die geld aan te stuur,”

Volgens January wou hy by Mooi weet van watter job hy praat, waarop hy geantwoord het, “Ons het Maggie se man vermoor”.

Mooi het nie gesê wie die “ons “ was nie.

Mooi het glo ook aan hom gesê dat hy ‘n man moet wees en hom gewaarsku dat indien hy na die polisie sou gaan hy nie persoonlik met hom sal afreken nie  maar “sy mense” sal stuur.

January het getuig dat hy hierna nie net vir sy eie lewe gevrees het nie  maar ook vir die lewens van sy ouma  en susters omdat Mooi weet waar hulle in Port Elizabeth woon. “Dit was ook die tweede doodsdreigement wat ek kry. Eers van Maggie en nou van Mooi.”

January het ook getuig dat hy na die moord deur Stuurman gevra is om haar motor skoon te maak wat deur Sixabiso Klip, Mooi en die onbekende Mvusi voor die moord gebruik is. Tussen die wynbottels en bierblikkies wat hy uit die motor gehaal het was ‘n leë pepersproeikannetjie.

January het onder kruisverhoor deur Maggie se prokureur, Henk Carstens, hofgangers regop laat sit met sy antwoorde oor hul verhouding en moes die regter in ‘n stadium vir orde vra.

Die saak is vir verdere kruisondervraging van January tot vandag uitgestel met hofverrigtinge wat om 09:00 sal begin. (Deur Garnett Wicomb)