Die afgelope week in die beskuldigdebank op Oudtshoorn: Natashia Stuurman (links), Magdaleen Titus en Masithembe January (MJ). Foto’s: Garnett Wicomb
IN ’n week van drama in die Rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn het twee beskuldigdes in die Preston Titus-moordsaak getuig dat hulle geweet het ’n moord word beplan.
Masithembe (MJ) January het gister begin getuig en gesê Magdaleen Titus, die eggenoot van wyle Preston Titus en ’n medebeskuldigde in die saak, het in November 2017 in Port Elizabeth aan hom gesê: “Ek wil Titus doodmaak”.
Volgens hom was hy saam met Magdaleen, Sixabiso Klip (Magdaleen se voormalige motorbestuurder en reeds gevonnis vir die moord) en Justice Mooi (ook ’n beskuldigde) in ’n eetplek toe hulle hom vra om vir ’n wyle na buite te gaan. Toe hy later wou weet waarom hy die restaurant moes verlaat, was Magdaleen se antwoord eers dat hulle oor politiek gepraat het, maar later het sy gesê sy wil haar man doodmaak.
“Maggie het hierop aan my gesê dat dit nie my besigheid is nie en sy my nie daarby betrokke wil sien nie.”
Sy het hom ook gewaarsku dat indien hy enigiets daaroor sou sê, hy seker moet wees dat sy sal reël dat hy die eerste sal wees wat doodgemaak sal word.
Volgens January het Klip hom by dieselfde geleentheid gevra of hy nie weet van ’n persoon wat mense kan laat “verdwyn” nie. Hy het ook getuig van sy ontmoeting met Magdaleen en Klip terwyl hy op Oudtshoorn was vir kerkdienste as ’n predikant van die Prophet Healing Ministries van Port Elizabeth.
Verdoemende getuienis is ook Dinsdag gelewer in die kruisondervraging van Magdaleen se voormalige boesemvriend, Natashia (Tessa) Stuurman, deur die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver.
Sy het getuig dat Sixabiso Klip haar van die plan vertel en sy hom gemaan het om dit te los. “Om eerlik te wees, Klip het dit gemeld dat Preston Titus die target is.”
“Ek was geskok en het vir myself gesê ek gaan maak asof ek van niks weet nie.
“Klip het in ’n stadium vir my gesê dat hy self bang is omdat die twee mans wat van Port Elizabeth gebring is, Mooi en Mvusi, ‘gevaarlike manne’ is.”
Sy het ook getuig oor haar ongemaklikheid nadat sy Klip van ’n “hit” gehoor praat het en dat sy vir hom gesê het om te los waarmee hy besig is. Volgens haar wou sy Magdaleen die Sondag konfronteer, maar het sy die Saterdagoggend gehoor Preston Titus is vermoor.
Sy het ook getuig dat Magdaleen haar verskoning gevra het toe hulle saam in aanhouding was. “Tessa, sal jy my vergewe vir wat ek jou laat deurgaan het. Ek wou jou nie so sien, swanger en in die tronk terwyl ek weet jy het niks gedoen nie. Maar Klip moet staan vir sy ding,” het Magdaleen glo aan haar gesê
Magdaleen het verlede week onder kruisondervraging van Van der Vijver getuig dat sy verlief was op MJ.
Haar man het nie van die verhouding geweet nie.
Sy het egter ontken dat sy toegekyk het hoe hy op 1 Desember 2017 in sy slaapkamer vermoor is. Van der Vijver het dit aan haar gestel dat dit hoogs onwaarskynlik is dat sy vas aan die slaap kon wees terwyl haar man in die kamer langsaan vermoor word, maar kort daarna hoor hoe haar dogter van buite die huis roep dat hulle die deur vir haar moet oopmaak.
Van der Vijver het dit voorts aan Titus gestel dat alle selfoonkommunikasie tussen haar en Klip om 22:53 die aand beëindig is en sy om 23:20, sowat ’n halfuur later, weer ’n oproep van Klip vanaf die Kandelaarsrivier-gebied op die Mosselbaai-pad ontvang het. Dit is waar die bebloede klere van die moordenaars en die moordwapens gevind is.
(Deur Garnett Wicomb)