Oudtshoorn se Braam Wannenburg (regs) Vrydag saam met die fietsrylegende Grant Lottering op die hoogste punt van die Swartbergpas. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
HULLE noem hom ’n fietsrylegende en die Miracle Man. Vrydag het Grant Lottering weer gewys waarom, toe hy die Swartbergpas per fiets getem het nadat hy reeds 560 km op sy fiets afgelê het!
Lottering het Oudtshoorn aangedoen as deel van sy Im’Possible-toer wat Donderdag in Patensie afgeskop het en Sondagoggend net voor 10:00 in die Paarl geeïndig het.
Hy het egter morele ondersteuning oor die Swartbergpas gehad met Oudtshoorn se Braam Wannenburg wat die pas saam met hom aangepak het. Wannenburg het die pas al verskeie kere herhaaldelik uitgery.
Lottering se fietstoer het oor 1 314 km gestrek wat 17 bergpasse ingeluit het. Tydens sy fietsrit het hy 16 000 m geklim. Hy het die Swartbergpas in net meer as ’n uur gery.
Die doel van dié toer is om fondse in te samel vir die Laureus Sport for Good Foundation waarvan Lottering ’n ambassadeur is.
Lottering het die volgende te sê gehad oor sy rit oor die Swartbergpas: “Om teen die genadelose en angswekkende steil Swartbergpas voor sononder uit te veg op die tweede dag nadat ek reeds 560 km gery het, het my amper vernietig. Dit was toe my ondersteuningspan tot langs my gekom het en ondersteuners se kommentaar op Facebook gelees het dat dit my geïnspireer het om aan te hou. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Wannenburg sê dit was vir hom ongelooflik om Lottering se eerste fietsrit oor die Swartbergpas met hom te deel.
“Hy het die hele tyd ’n glimlag op sy gesig gehad en die natuurskoon bewonder. Hy het ongelooflike uithouvermoë, en soveel vertroue in homself, maar was terselfdertyd so nederig.”
Lottering het tydens die 2013 Wêreldkampioenskap tydens ’n oefensessie ’n lewensgevaarlike ongeluk gehad toe sy fiets teen ’n afdraande in die Alpe ’n plas water getref het. Hy het 22 bene in sy liggaam gebreek, insluitend sy ribbes, en gate in sy longe gehad.
Ses operasies later en na vier maande se rehabilitasie was Lottering binne 11 maande weer reg om op sy fiets te klim.
In 2016 is hy egter met kanker gediagnoseer en moes hy weer ’n operasie ondergaan.
“Grant was amper dood, en kyk wat doen hy nou. Die grootste les wat ek by Grant geleer het, is die feit dat jou verlede nie ’n negatiewe uitwerking op jou toekoms hoef te hê nie,” sê Wannenburg.