’N 15-jarige meisie van Piedtstraat in Bridgton, Oudtshoorn, is gister (Woensdag, 23 Junie) van die George Hospitaal na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas nadat ’n hond haar laat Saterdagmiddag (19 Junie) in Bridgton in die gesig gebyt het.
Charna Barnard is volgens haar pa Christo Barnard, deur ’n boerboel gebyt. “Maar ek was die dag self nie daar nie, so ek is nie seker nie – dit is wat mense vir my gesê het. Ek was baie emosioneel toe ek ná die aanval daar aankom, en wou net my kind by die hospitaal kry,” het hy gesê.
Volgens Barnard was Charna en haar ma, Natasha, by vriende in De Laanstraat waar hulle in ’n “bungalow” gesit en gesels het.
“My vrou het vir my gesê die hond het deur die bungalow gehardloop, verby almal wat daar was, en Charna aangeval. My vrou sê dit was byna onmoontlik om die hond van haar af te kry.”
Barnard sê daar was ’n hele paar mense op die erf en in die huis, en hy verstaan nie hoekom die hond vir Charna geteiken het nie.
“Toe ek daar aankom, het ek my kind vol bloed gesien. Dis moeilik om te beskryf. Behalwe vir die bytplekke aan haar gesig en nek, sukkel sy veral met haar een oog.
“Dis hoekom sy Groote Schuur toe moet gaan. Sy wag nou juis vir haar vervoer daarheen,” het hy gisteroggend aan Die Hoorn gesê.
Die besorgde pa het gewaarsku dat mense versigtig moet wees met enige groot honde. “Ek weet honde is daar om ons huise te beskerm, maar jy kan nie kanse vat nie. So iets kan met enigeen gebeur,” het hy gesê.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Ge-sondheid in die Suid-Kaap, is ’n pasiënt wat aan Charna se beskrywing voldoen Saterdag in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel.
“Die pasiënt is dieselfde dag ontslaan, maar wel Maandag vir verdere behandeling na die optometrie-afdeling by die George Hospitaal verwys,” het sy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Meisie sterk aan ná hondaanval
Charna Barnard. (Foto verskaf)
We are praying for you and your family 😭🙏