Media24 saak teen twee van O’hoorn gaan voort

Die saak van die twee vroue wat daarvan aangekla word dat hulle verskeie publikasies van Media24 op ’n Whats-App-groep, waarvan hulle die administrateurs was, versprei het, het op Maandag 29, Januarie, in die Hooggeregshof in Kaapstad voortgegaan.

Daar is bevind dat die vroue, Leanda Van den Berg (56) en Christina (Christa) Gorgens (57), albei van Oudtshoorn, Media24 se outeursreg geskend het. Daar was bykans 900 mense op die groep “Koerante en Tydskrifte”, waarop pdf-weergawes van verskeie publikasies versprei is.

Regter Monde Samela het die saak aangehoor.

Die hof is gevra dat die vroue gelas word om hul selfone waarvan die WhatsApp-groep bedryf is en wat gebruik is om Media24 se outeursregte te skend, aan Media24 se prokureurs te oorhandig. Die selfone sal as bewysstukke hanteer word.

Die hof is ook gevra om die vroue te beveel om die finansiële verliese wat Media24 gelei het weens die onregmatige verspreiding van die publikasies, van die vroue te verhaal, wat ook rente op die bedrae insluit, en moet ook die koste van die saak betaal.

Publikasies wat gedeel is op die groep sluit in Huisgenoot, Die Burger, Sarie Kos en Weg!, om ’n paar te noem.

Van den Berg en Gorgens was nie in die hof teenwoordig gewees nie, en het ook nie die aansoek teengestaan nie.

Dit is onwettig om enige koerante, tydskrifte of boeke af te laai en te versprei sonder die toestemming van die eienaar of maatskappy waaraan dit behoort.

Die media-bedryf ly jaarliks miljoene rande se verlies aan inkomste as gevolg van onregmatige verspreiding. (Deur Lindi Brill & Angelique Erasmus)