3 Jaar modelkontrak vir Ella

Ella Rossouw tydens twee verskillende fotosessies. Die Rossouw’s was vir 14 jaar inwoners van Oudtshoorn, maar het in Desember 2022 na die Paarl verhuis. Sy is in die Kaap deur ’n agent opgemerk toe sy in die Waterfront inkopiesentrum geloop het. Foto’s: Verskaf

Ella Rossouw (17), dogter van oud-Oudtshoorn inwoners, Stephan en Heléne-Mari Rossouw se droom om as model te werk, is besig om waar te word. Die Rossouw’s het in Desember 2022 na die Paarl verhuis. Ella, hul oudste dogter is tans ’n matriekleerder by Hoërskool Gimnasium Paarl.

Sy het ’n 3 jaar kontrak met The Circle Models geteken tot Maart 2026. Ella het reeds verskeie kere as model gewerk in die afgelope jaar wat haar gesin in die Kaap woon.

Sy het al in Mei deelgeneem aan die Gavin Rajah modeskou by die Vabo Beach Club in die Waterfront.

Sy was te sien in Oktober op die loopplank by die Cape Town Fashion Week waar sy 9 ontwerpersuitrustings oor 3 dae vertoon het, en ook ’n ‘Live” model vir G-Raw Store, ’n winkel in die Waterfront.

Sy is tans ook te sien vir die NFL klerereeks plakkate wat te koop is by Pick n Pay.

Ella was ook reeds vir internasionale onderhoude om as model te gaan werk oorsee, wat baie positief was, maar moet egter eers 18 wees voordat sy kan kontrakte teken.

Haar ma vertel aan Die Hoorn dat hulle vreeslik opgewonde is oor haar toekoms, maar dat haar pa nie so in sy skik is met haar plan om oorsee te gaan werk as model nie.

“Hy wil hê sy moet eers gaan studeer na skool, sê sy.

Haar plan is egter om met haar terugkoms wel sielkunde te gaan studeer.

Die Rossouws was 14 jaar inwoners van Oudtshoorn en Stephan was een van AMS (Air Mercy Service) se helikoptervlieëniers. Heléne-Marie het vir baie van Oudtshoorn se families die mooiste foto’s geneem en is steeds die eienaar van Koochickoo, wat oulike kinder-etikette en plakkers maak.

“Hy mis dit baie om te vlieg,” vertel Helene-Marie, maar tans werk hy as bemarker van hul plase, Mooigezicht Estates.

Die Rossouw’s is dit eens dat hulle Oudtshoorn baie mis, veral die mense en die hartsvriende wat hul moes agterlaat en ook die gerief om vinnig na ’n plek toe te ry, die ritme van die stad is baie vinniger!

Alhoewel dit ook warm is in die Paarl, is hulle bly dat hulle nie meer die vreeslike hitte van Oudtshoorn hoef te trotseer nie. (Deur Angelique Erasmus)