Die matrikulant van Oudtshoorn wat tereg staan op ’n aanklag van moord op ’n 27-jarige man, het Maandag weer vlugtig in die hof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 November 2025 uitgestel.
Volgens bewering het die 18-jarige op 30 Augustus die slagoffer met ’n mes gesteek op die hoek van Unie- en Adderleystraat nadat hulle vroeër by ’n kuierplek gedrink het en later in ’n woordewisseling betrokke geraak het.
Die staat het borgtog teengestaan, maar die hof het bevind dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan die beskuldigde toe te staan.
Daar is bevind dat geen getuienis voor die hof was wat aandui dat haar vrylating die openbare rus sal versteur of dat sy sal vlug nie. Die hof het ook in ag geneem dat sy ’n eerste oortreder is met geen hangende sake nie.
Die beskuldigde het in haar borgtogaansoek aangedui dat sy onskuldig gaan pleit op die klagte van moord. Haar borgtog van R3 000 en borgvoorwaardes is Maandag verleng tot haar volgende hofverskyning. (GARNETT WICOMB)
Matrikulant op moordklagte weer vlugtig in hof
