Die saak teen ’n 54-jarige man van Bridgton wat van moord en regsverydeling aangekla word, is verlede week uitgestel tot volgende jaar as gevolg van ’n vol hofprogram.
Volgens die aanklagte het die beskuldigde op 8 April 2024 die slagoffer opgelaai en na sy huis geneem, waar hulle na bewering in ’n argument betrokke geraak het.
Hulle het daarna glo na die Bridgton-vulstasie gery, waar die slagoffer met ’n bebloede hemp uit die bakkie gespring en ’n ent verder inmekaar gesak het.
Tydens sy borgtogaansoek het die beskuldige aangedui dat hy onskuldig gaan pleit en beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Die saak dien voor die streekhof en is vir twee dae se verhoor (29 en 30 Januarie 2026) uitgestel. (GARNETT WICOMB)
Bridgton-moordsaak: Beskuldigde beweer selfverdediging
