Daar’s ’n koedoe op my stoep

’n Videogreep van die Koedoekoei wat Saterdagoggend in die dorp rondgeloop het.

’n Koedoekoei het Saterdagoggend besluit sy is moeg vir die veld en lus vir ’n dorpsavontuur.
Haar teenwoordigheid het natuurlik ’n hele paar inwoners onkant gevang, en sy moes seker soos ’n bekende persoon gevoel het toe mense en motors haar oral rondvolg met selfone, besig om foto’s te neem en video’s te maak.

Die Hoorn het met Jaco Erasmus, wat in Jakarandalaan woon en wat deel van die opwinding was, gesels.
“’n Boer het my vroegoggend gebel en vertel daar staan ’n koedoe in my erf,” vertel hy.

Hy het eers gedink dit is ’n grappie, en het sy hond liewer binne die huis gehou voordat hy stadig by die agterdeur uitgegaan het om te gaan kyk.

Hy het haar 07:00 die oggend aan die peusel onder sy pruimboom aangetref.

“Die oomblik toe sy my sien het sy geskrik en weggehardloop, en oor my heining gespring.”
Hy het opgemerk sy beweeg dieper dorp toe en wou haar eerder na die veld, na Voortrekkerweg stuur.
Met die hulp van ander omstanders wat verkeer help reguleer het, het hulle haar vanuit Jakarandalaan na Vredestraat en verby Laerskool Wesbank in Parkweg gejaag.

“Daar het ’n polisievoertuig ons kom bystaan, maar sy het vir die sirene geskrik en skielik doodstil gaan staan,” sê Jaco.

Jaco het stadig na haar gestap en haar kop na die veld se kant toe gedraai, waarna sy weer in die regte rigting in beweeg het.

Intussen het Mornay Thysse, Oudtshoorn se bekende reddingsbeampte en slangvanger, by die groep aangesluit. Daar is toe besluit dat sy eerder deur ’n veearts verdoof sal word en na ’n veiliger plek geneem moet word.

Shaun Sagor van Oudtshoorn Diere-kliniek het met ’n spesiale geweer, wat pyle met verdowingsmiddel afvuur, die koedoe verdoof, en sy is na Buffelsdrift vervoer.

Jaco spot en sê hy wou gaan draf het om oefening in te kry. “Ek het toe sommer agter die koedoe aan geoefen, al was dit nou met kaalvoete,” skerts hy.

Waarom en hoe die koedoe in die dorp beland het, bly ’n raaisel. As ’n koedoe net kon praat.

Loer gerus na Die Hoorn se tong in die kies video op Facebook, wat Dinsdag geplaas is, waar sy speels “kommentaar” lewer oor haar besoek aan Wesbank. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Daar’s ’n koedoe op my stoep"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*