Oud Gimmie, Marnus Botha (30) het Saterdag 17 Augustus, deurgedring na die Top 10 in die Mnr Suid-Afrika kompetisie.
Die kompetisie is by Vodacom World Events in Johannesburg aangebied.
Alhoewel dit vir hom spannend was terwyl hy gewag het vir die aankondig van die Top 10, was hy bly dat hy steeds Oudtshoorn se naam hoog kan hou. “Ek was so trots toe die Top 10 band om my skouers gehang word, en dat die harde werk wat ek ingesit het beloon is,”
Die finale kompetisie vind later vanjaar tydens ’n spogseremonie op 9 November 2024 weer by Vodacom World Events plaas.
“Ek is baie oorweldig deur die wonderlike ondersteuning wat ek gekry het van die Oudtshoorn gemeenskap af, en lees elke boodskap,” vertel Botha aan Die Hoorn.
Hy neem ook graag die geleentheid om almal te bedank. “Eerstens dankie aan my vrou vir al haar ondersteuning in alles wat ek moes doen in die kompetisie, sy is absoluut my steunpilaar.”
Ook vir sy familie en vriende wat hom positief gehou het en vir al hulle raad, veral met al die uitdagings en elkeen van sy borge wat hom ondersteun tydens hierdie reis.
“Baie dankie vir al die ondersteuning uit die Klein Karoo en ook my geboortedorp Oudtshoorn. Ek wens ek kon vir elkeen persoonlik dankie sê vir hulle stemme, ondersteuning, elke boodskap, kommentaar, like en share. Julle is die rede dat ek sover in die kompetisie gekom het.” vertel Botha opgewonde
Vir die laaste rondte in die kompetisie wil Botha fokus daarop om verhoudings te bou. Hy vertel dat baie vermag en situasies verbeter kan word wanneer mense saamstaan. Hy wil ook ’n voorbeeld en ’n baken van hoop vir die jeug en ander mans wees.
Na die aankondiging van die top 10 die naweek, was Botha hierdie week besig met verskeie radio onderhoude, ook met Eden FM waar hy met meer as 100 000 luisteraars gepraat het.
Botha is tans op ’n dinamiese reis, en alhoewel hy van ’n Karoodorp afkomstig is, bewys die reis juis dat groot drome waar kan word, maak nie saak waar jy vandaan kom nie.
Botha woon in Somerset-Wes, en werk by die Stad Kaapstad Munisipaliteit se Strategiese Beplanningsdepartement. Hy het in 2011 gematrikuleer by Langenhoven Gimnasium.
Om die Top 10 te haal is nie die enigste opwindende nuus in die Botha-huis nie. Sy vrou, Marguerite is swanger met hul eerste kind.
In Oktober vanjaar verwelkom hulle ’n baba- seuntjie. Die nuus is vroeër die maand deur die opgewonde ouers op sosiale media gedeel.
Daar wag groot avonture vir Botha en sy gesin in 2024.
Volg hom gerus op Facebook en Instagram, en bly op hoogte van nuus en vordering na die Mnr Suid-Afrika kroon. (Deur Angelique Erasmus)
Marnus haal Top 10
Marnus Botha, na die aankondigng van die Top 10 op Saterdag. Foto verskaf