Mans wat twee op Kersfeesdag by Bridgton-klub beroof, lank tronk toe

TWEE mans van Oudtshoorn wat op Kersfeesoggend verlede jaar twee mans buite ’n nagklub oorkant die Bridgton Sportgronde beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn Streek-hof elk tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Michael Swapi en Zola Maliwa is skuldig bevind aan twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede nadat hulle Francois Monck en Dominique Fourie in Zebraweg met messe gedreig en van hul selfone, kontant, motorsleutels en ’n pienk baadjie beroof het.

Swapi en Maliwa is danksy die vinnige optrede van die polisie sowat ’n uur later in hegtenis geneem. Swapi is ge-sien waar hy die motorsleutels weggegooi het, terwyl Maliwa gesien is met die baadjie van een van die klaers.

Die twee rowers se weerga­wes is deur streeklanddros Ntso­ki Moni as vals verwerp. Swa­pi het getuig dat hy die og­gend omstreeks drie-uur onderweg was na sy meisie in Smartie Town. Hy het getuig dat hy saam met drie ander mans was maar onder kruisverhoor erken dat hy alleen was. Hy het ont­ken dat hy die motorsleutels in sy besit gehad en weggegooi het toe hy die polisie sien aankom het.

Maliwa het getuig dat hy die oggend dwelms gaan koop het en op pad huis toe ’n pienk baadjie by ene Jan Padda gekoop het. Hy het die baadjie aangetrek en die dwelms in een van die sakke gesteek. Hy kon egter nie verduidelik waarom hy weggehardloop en oor die hei­ning van die Bridgton Sportgronde gespring het nie.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om die twee beskuldigdes vir ten minste 10 jaar tronk toe te stuur. Die landdros het in ag geneem dat die klaers nie beseer is nie en afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. (Deur Garnett Wicomb)