Man wat kind met byl kap laat vaar borgtogaansoek

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Matjiesrivier wat ’n elfjarige seun met ’n byl in die gesig gekap het, het sy planne om vir borgtog aansoek te doen in die landdroshof op Oudtshoorn laat vaar.

Wilfred Vis (19) staan tereg op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, het die hof meegedeel dat nog aanklagte by die klagstaat gevoeg kan word omdat Vis glo ook ’n buurman aangerand het.

Landdros Theolin November het dit aan die beskuldigde gestel dat hy die reg het om met sy volgende verskyning wel nog om borgtog aansoek te kan doen indien hy so sou wou besluit.

Die saak is vir verdere ondersoek en ’n agtergrondverslag van die beskuldigde tot vandag (30 Augustus 2018) uitgestel.