Tronkstraf vir diefstal van blikkieskos en selfoon

• Hy was honger, sê man wat skuld beken

Deur Garnett Wicomb
’N 28-JARIGE man van die Black Joint informele woonbuurt in Bongolethu, wat by die huis van ’n vrou ingebreek het en geld,

’n selfoon en blikkieskos gesteel het, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind en twee jaar gevangenisstraf opgelê.

Ashwil Manual het in die hofsaak skuldig gepleit dat hy by die woning van Lisa Joseph ingebreek en gesteel het.

Sy was tuis toe hy ingebreek het.

Hy het R1800 kontant, ’n selfoon en ses blikkies kos gesteel omdat hy glo werkloos en honger was.

Hy is kort daarna in hegtenis geneem nadat hy reeds R680 van die geld gebruik het.

Die vrou het die res van haar geld, die selfoon en blikkieskos terug­gekry.

Streeklanddros JC Nortje het met vonnisoplegging gesê die misdaad word in ’n ernstiger lig gesien omdat daar mense in die huis was.

“Die hof het ’n plig teenoor die gemeenskap en ook teenoor die be­skuldigde om nie enige feite voor die hof oor- of onder te beklemtoon met vonnisoplegging nie, en ook ’n mate van genade te betoon.

“Om meer as R600 te verloor is vandag in enige huishouding baie geld,” het die landdros gesê.

Hy het voorts in ag geneem dat Manual skuldig gepleit en oop kaarte met die hof gespeel het.

Hy is ingevolge Art 276 (1) (i) tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.