Man onder huisarres na dood van vrou

’N MAN van Rose Valley op Oudtshoorn wat tereg gestaan het op ’n klagte van moord op sy vriendin, maar aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is Dinsdag (23 November) in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir 36 maande onder korrektiewe toesig geplaas.

Hendrik de Villiers (59) het in ’n beëdigde ver­klaring erken dat hy die middeljarige Cathleen Avontuur op 5 Oktober 2019 aangerand en ernstig beseer het.

Hy het ook erken dat hy haar begin wurg het, maar toe gestop het.

Sy het daarna die huis verlaat en is later oorlede.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê hoewel iemand gesterf het, was daar geen direkte getuienis voor die hof dat die beskuldigde die dood veroorsaak het nie, en die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat De Villiers vir Avontuur doodgemaak het nie.

Volgens die landdros is De Villiers aan ’n erns­tige misdaad skuldig bevind, maar dat geen vonnis Avontuur se lewe sal terugbring nie. Hy is ’n eerste oortreder en die belang van die gemeenskap kom sterk na vore, het die landdros gesê.

De Villiers is tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, asook vir drie jaar korrektiewe toesig met huisarres vir die volle tydperk. Hy mag sy huis net tussen 07:00 en 18:00 verlaat vir werk- en kerkdoeleindes.

Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en mag nie Oudtshoorn verlaat nie. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)