Man kry 13 Jaar vir verkragting en roof

Deur Garnett Wicomb
’N Man (33) van De Rust wat ’n vrou anaal verkrag en beroof het is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof 13 jaar tronkstraf opgelê.

Winston Kamoetoe het die vrou, wat op De Rust kom kuier het en nie geweet het waar ’n familielid woon nie, vergesel, oorval en verkrag. Hy het haar ook van haar selfoon en R360 kontant beroof.
Kamoetoe se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het gevra vir die afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis vir verkragting omdat die vrou nie ernstig beseer is en omdat hy ’n eerste oortreder is.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het betoog dat daar geen omstandighede bestaan om van die minimum vonnis af te wyk nie.

“Die beskuldigde verdien meer as die minimum vonnis van tien jaar. Die klaagster se gevoel teenoor mans het na die voorval heeltemal verander. Sy het ’n vaste vriend gehad, maar hul paaie het geskei en sy het selfmoordneigings getoon,” het Plaatjies gesê.

“Die statistieke van verkragting in die land is skokkend hoog en daarom word minimum vonnisse voorgeskryf,” het die landdros gesê.

Kamoetoe is 10 jaar vir verkragting en drie jaar vir roof opgelê wat gesamentlik uitgedien word.
Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.