
Die Anatoliese berghond, Kwagga, met sy beseerde poot. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Polisie op Ladismith ondersoek ’n saak van dieremishandeling nadat ’n man “draadstrikke” en “slagysters” op die plaas Vensterkranz Boerdery geplaas het.
Leon Claassen (46) het al twee keer in die hof verskyn op aanklagte van dieremishandeling.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die hond van Claassen se skoonsuster verlede jaar in ’n valstrik op sy plaas beland. “Daar word beweer dat Claassen slagysters gestel het waarna sy skoonsuster se honde daarin gevang is.”
Die skoonsuster, Karin Claassen, het toe die saak teen hom gemaak.
Uittreksels uit ’n beëdigde verklaring van Karin Claassen voor die hof lui onder meer soos volg:
“Dinsdag, 5 Julie 2016, het een van my Anatoliese berghonde, Zupta, verdwyn. Die volgende oggend het die hond by die huis gekom met merke aan sy voorpoot van ’n draadstrik. Ek het my skoonpa ingelig daaromtrent, my skoonpa het weer Leon Claassen ingelig en hom gesê dit is onwettig. Hy het die plaaswerkers ingelig om alle strikke te verwyder, maar dis nie gedoen nie.
“Donderdagmiddag, 7 Julie 2016, het nog van my Anatoliese berghonde, Kwagga, verdwyn. Teen 09:00 die Vrydagoggend, 8 Julie 2016, het ek en my twee seuns, in die buurman (Morkel) se veld ingeloop reg langs die lyndraad van Leon Claassen van Vensterkrans Boerdery Ladismith. Om 10:00 so ’n paar meter met daardie pad het My een seun Kwagga gesien hang aan die draad. Daar was twee slagysters, maar sy voet was vasgevang in die een slagyster. Ons drie het dit uiteindelik reggekry om hom te bevry, maar Kwagga was in geweldige pyn en kon skaars loop.”
Claassen het verlede Donderdag (2 Maart) in die hof verskyn. Die verhoor is uitgestel tot 23 Maart vir die reël van ’n voorsittende beampte.
Hy het nog nie formeel gepleit nie.