
Anika Uys (22). Foto: Facebook
Deur Liesel le Roux
NOG ’n jong Oudtshoorniet, Anika Uys (22), is in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal opgeneem na ’n motorongeluk, die keer op die Calitzdorppad.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die ongeluk om 07:20 Dinsdagoggend plaasgevind toe Uys na bewering beheer oor haar Hyundai Atos verloor het.
“Volgens oogetuies het Uys beheer oor die motor verloor en het die voertuig daarna gerol,” het sy gesê.
Uys is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal toe geneem en daarna oorgeplaas na die George MediClinic.
Volgens ’n vriend van Anika, Christo Ebersohn, was hy gister by Anika in die hospitaal en het sy baie seergekry. Haar rug is gebreek terwyl haar brein geswel is as gevolg van kopbeserings. Ebersohn sê egter die dokter is positief oor Anika se herstel.
Anika is ’n oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn. Die Hoorn kon nie daarin slaag om haar ma te bereik voor spertyd nie.