Die gewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word aangebied deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF). Meer as R60 000 se prysgeld is op die spel.
Die reeks word vanjaar uitgebrei met die byvoeging van die George Straatmyl, wat deel vorm van die George Sport en Kultuurfees. Nog opwindende byvoegings by die reeks sluit in Suzuki Oudtshoorn, wat nou as ’n gewaardeerde sekondêre borg betrokke is, en MSEC Sekuriteit, wat by al die byeenkomste as sekuriteitsvennoot optree.
Die reeks skop op 14 Desember af met die George Straatmyl in Yorkstraat, George, gevolg deur die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word. Dit word afgesluit op Hartenbos met die ATKV Straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Die Klein Karoo Straatmyl in Baron van Reedestraat het al heelwat sub-vierminute myle in die verlede opgelewer. Die atlete spring in Baron van Reedestraat naby die Kleinplaas-vakansieoord weg en eindig voor Santa Fe Spur na ’n afstand van 1 myl (1609 m). Alle aktiwiteite vind dan ook voor die Santa Fe Spur plaas.
As deel van die reeks word ’n dames- en mansatleet gekroon as die Gran Prix-wenners. Dit is die atlete wat die meeste punte kon versamel vir deelname aan die meeste straatmyle in die reeks. Dit gaan ook gepaard met ’n stewige kontantprys.
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreld padkampioenskappe program. Die Eden Straatmylreeks bied atlete die geleentheid om die Atletiek SA keurders te beïndruk vir opname in die SA-spanne.
Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden Straatmylreeks meeding: Jong Talent (2011-2016), Jeug (2008-2010), Junior (2006-2007), Ope en 40+. Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet.
Die hoofborge is NWU, ATKV Oorde Hartenbos, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake & Sport, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, George Munisipaliteit, Mosselbaai Burgemeesterskantoor en MSEC. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Suzuki Oudts-hoorn, Surval, Kleinplaas, Sante Fe Spur, ASWD, ASICS, TOP GEAR, EdenFM en Jakhals Events Management.
Meer inligting omtrent hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.
Maak gereed vir die Eden Straatmylreeks
Foto verskaf