Vir amper 35 jaar het Katriena Lewie haar lewe gewy aan haar gemeenskap. Nou is dit tyd vir haar om die tuig neer te lê en te rus. Die Oudtshoorn Munisipaliteit het onlangs afskeid geneem van Lewie wat vir 34 jaar en nege maande die bibliotekaresse van die Dysselsdorp Openbare Biblioteek was. Sy het op 3 Januarie 1989 diens aanvaar en het op 31 Oktober 2023 uit diens getree.
Tydens haar ampstermyn het sy ‘n verrykende impak gehad op die biblioteek en die gemeenskap wat dit bedien. Sy het self die biblioteek skoongemaak, boeke weggepak en ook seker gemaak dat die biblioteek tussen 09:00 en 13:00 en vanaf 14:00 tot 18:00 daagliks oop is. Dit is ‘n getuienis van haar passie en toewyding tot die gemeenskap en bestuur van die biblioteek.
Sy was nie net ‘n bibliotekaresse nie, maar ook ‘n gemeenskapsbouer van formaat. Sy was betrokke by uitreikingsprogramme en het elke ses maande ‘n groep bejaardes na die weermag vergesel vir storievertellings en sangkompetisies.
Hierdie betrokkenheid met die gemeenskap het ook uitreikingsprogramme met skole ingesluit. Sy sal onthou word vir haar interessante uitstallings om bewusmaking oor ‘n reeks aktuele kwessies, insluitend alledaagse sake, gesondheidskwessies, maatskaplike uitdagings en wêreldnuus, te stimuleer.
Sy het ook toerisme-bemarking vanuit die biblioteek behartig, wat sy met oorgawe gedoen het.
In Januarie 2005 het Lewie die Vanfijfeiken Speelgoedbiblioteek by die Dysselsdorp Openbare Biblioteek help stig.
Haar doelgerigtheid het daartoe gelei dat die speelgoedbiblioteek op 24 Mei 2005 geopen is, ‘n innoverende byvoeging wat ‘n voorsprong aan die gemeenskap gebied het.
Vir ’n groot deel van haar loopbaan, 17 jaar, het sy alleen in die biblioteek gewerk, totdat Chanel Klaassen in 2007 as biblioteekassistent aangestel is deur middel van die “Conditional Grant”-program.
’n Verdere mylpaal in haar loopbaan was toe die biblioteek in 2009 gerekenariseer is. Dit het ‘n nuwe uitdaging vir haar meegebring, aangesien sy self nie oorspronklik rekenaargeletterd was nie. Desnieteenstaande het sy die geleentheid aangegryp om haarself te bemagtig en kan sy vandag lede van die publiek ook leer.
Gedurende ‘n groot deel van haar loopbaan het sy ook die pos van Voorsitter van die Oudtshoorn Biblioteekforum beklee.
Katriena Lewie was nie net ‘n bibliotekaresse en gemeenskapsbouer nie, maar het ook ‘n merk gemaak as vakbondverteenwoordiger waar sy veral baklei het vir die regte van vroue in die werksomgewing.
Die Uitvoerende Bur-gemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Chris Macpherson, die Munisipale Bestuurder, Walter Hendricks, Direkteur: Gemeenskapsdienste, Noel Van Stade, Bestuurder: Biblioteekdienste, Deidre Carelse, die raad en alle munisipale amptenare het haar ‘n vreugdevolle en geseënde aftrede toegewens.
Haar inspirerende leuse in die biblioteek, “Gebruik en Hergebruik,” sal vir altyd voortleef en ‘n baken van wysheid bly.
Lewie sê totsiens ná 34 jaar
