Lewenslank vir man wat kinders verkrag

’N 41-JARIGE man van Oudtshoorn is Woensdag (17 Maart) in die Oudts­hoorn Streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis na verskeie gewelddadige voorvalle wat die veiligheid van vier minderjarige familielede bedreig het.

Die man, wat al voorheen aan moord en verkragting skuldig bevind is, is lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die verkragting van ’n 14-jarige meisie, asook 29 jaar altesaam vir verkragting van ’n 15-jarige, seksuele aanranding van ’n 15-jarige asook aanranding van sy 17-jarige seun.

Die beskuldigde, wat nie geïdentifiseer mag word nie om die minderjariges te beskerm, is volgens streek­landdros Daniel Boks aan skandalige en weersinwekkende misdrywe skuldig bevind en het geen berou getoon oor wat hy gedoen het nie.

Hy het die dade met die meisies, almal familie van hom wat hom as Boeta aangespreek het, en sy seun by verskillende geleenthede in 2019 gepleeg maar tot die einde skuld ont­ken.

Hulle het almal saam op een erf in Bridgton gewoon.

Volgens hom was hy nie op die toneel nie alhoewel hy ook deur sy broer op die toneel geplaas is.

Die beskuldigde het sy seun twee keer met ’n mes gesteek omdat hy daarvan verdink is dat hy met sy ma slaap. Die meisies is verkrag deur hulle vas te bind of met ’n saag te dreig.

Volgens die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, behoort die man permanent uit die gemeenskap verwyder te word vir die aaklige misdrywe en omdat hy geen berou toon nie. Al die kinders het hom as ’n vaderfiguur gesien.

Cindy Murray-Smith, die beskul­digde se regshulpprokureur, het die hof versoek dat sy vonnisse vir verkragting samelopend uitgedien kan word. Hy het aan die korrektiewe beampte gesê dat hy sy straf sal aanvaar.

Streeklanddros Daniel Boks het die beskuldigde se weergawe dat die kinders ’n storie teen hom opgemaak het, verwerp as vals en leuenagtig.

“Die slagoffers moet sien dat die hof hul belange beskerm en ’n boodskap moet uitgestuur word dat sulke gedrag nie geduld kan word nie. Verkragting is vernederend en die verbreking van enigiemand se mens­waardigheid.”

Die man se lys vorige veroorde­lings is ook verswarend wanneer dit by vonnisoplegging kom. Hy is in 1998 aan moord skuldig bevind en sewe jaar tronkstraf opgelê en in 2005 aan verkragting waarvoor hy tien jaar tronkstraf opgelê is.

“Die kinders het getuig dat hulle baie kwaad is oor wat “Boeta” aan hulle gedoen het en dat hulle hom nooit sal vergewe nie.”

Die beskuldigde is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir aanranding om ernstig te beseer, 18 jaar vir verkragting, vyf jaar vir seksuele aanranding en lewenslank vir die verkragting van ’n 14-jarige.

Die hof het gelas dat die 29 jaar tronkstraf samelopend met die lewenslange gevangenisstraf uitgedien kan word en dat die beskuldigde se naam ook in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.

Voorts het die hof gelas dat die kinders berading kry en ’n verslag aan die hof voorgehou moet word. (Deur Garnett Wicomb)