Leerders deur motor getref

Deur Angelique Erasmus
DRIE leerders van Bridgton Senior Sekondêr op Oudtshoorn is verlede Donderdag in Piedtstraat in Bridgton raakgery.

Een van die leerders is ernstig beseer.

’n Wit Volkswagen Polo was by die voorval betrokke.

“Die drie pasiënte is na die Oudtshoorn Hospitaal geneem met kop, nek- en rugbeserings,” sê Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

Volgens Nadia Fer­rei­ra, woord­voer­der van die Wes-Kaapse Depar­tement Ge­sondheid, is twee van die kinders in die hospitaal opgeneem, en die derde kind nog dieselfde dag ontslaan.

“Een van die pasiënte is dieselfde dag oorgeplaas na die George Hospitaal, en daar vir veelvoudige bese-rings behandel,” sê sy.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.