Landdros bestempel saak teen pastoor as ‘ingewikkeld’

Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n pastoor van Oudtshoorn is gister in die Oudtshoorn Landdroshof uitgestel vir voorverhoor as gevolg van die kompleksiteit van die saak en ’n groot hoeveelheid bewysstukke in die saak.

Die saak sal volgende Donderdag 25 Julie op Oudtshoorn voortgaan.

Volgens die staatsaanklaer in die saak, adv Michelle Weyers, is die staat tans besig om na nog bewysstukke te kyk en besig om ’n klagstaat en verslag op te stel.

Christo van der Bergh, die beskuldigde se regs-verteenwoordiger, het dit aan die hof gestel dat die saak nou meer kompleks is omdat daar 30 bewysstukke uitgewys word, en dat hulle eers na die redes daarvoor wil kyk.

Daniël Boks, streeklanddros in die saak, het beaam dat die saak ingewikkeld is, en besluit dat die saak uitgestel gaan word sodat die verdediging kan kyk na klagstate wat opgestel word wat verband hou met pornografie.

Die beskuldigde se borg en voorwaardes is tot die volgende uitsteldatum verleng.
Daar is verlede jaar in Oktober aanvanklik vyf klagtes – drie van onsedelike aanranding en twee van verkragting – teen die Pastoor ingedien.

’n Week later egter is nog twee klagtes bygevoeg.

Gemeentelede van die pastoor se gemeente het hom gister weer – soos ook met vorige hofverskynings – in die hof bygestaan.